Wie's hier?

Ons het 25 gaste aanlyn

Besoekers

mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
mod_vvisit_counterVandag31
mod_vvisit_counterGister272
mod_vvisit_counterHierdie week1080
mod_vvisit_counterVerlede week1768
mod_vvisit_counterHierdie maand6689
mod_vvisit_counterVerlede maand7793
mod_vvisit_counterAlle dae577655

Aanlyn (20 minute gelede): 6
Jou IP: 184.73.14.222
,
Today: Apr 25, 2019

teologie_transisie_header

Communitas nooi jou graag uit na ‘n baie besondere geleentheid. Ons begin 2012 met ‘n konferensie om die bydrae van Coenie Burger te vier. Ons nooi jou persoonlik omdat ons weet dat jou pad op een of ander manier met dié van Coenie gekruis het en dat jy sal belangstel.

Vir baie van ons was en is Coenie dié een gewees wat ons ingenooi het vir ‘n voortgaande gesprek – nie alleen oor die dinamika van gemeentes nie, maar oor ‘n wye reeks van teologiese onderwerpe. Voortgaande gesprek  is tiperend van Coenie se werk en leefstyl. Óf ons nou vergadering hou en óf ons net koffie drink, daar is altyd ‘n geleentheid om oor ‘n interessante nuwe teologiese tema gesprek te voer. Die gesprekke met Coenie is altyd verrykend, inklusief, uitdagend én voortgaande! Coenie het ingestem vir die geleentheid op voorwaarde dat ons die konferensie so sal inrig dat ons nie net oor die verlede praat nie, maar saam onderskei oor die toekoms. Ons gaan dus terugkyk oor die tydperk waarin sy loopbaan ontvou het, sodat ons saam kan vorentoe kyk!

Ons het daarom besluit om ‘n konferensie ter viering van sy bydrae soos ‘n voortgaande inklusiewe gesprek te organiseer. Die Internasionale Navorsings-Konsortium – waarvan Coenie ‘n stigterlid is – kom Januarie 2012  in Stellenbosch bymekaar en die lede van die konsortium sal ook die konferensie bywoon. Onder hulle tel onder andere Pat Keifert, Pat Taylor-Ellison en Stanley Green uit die VSA, Michael Herbst en Martin Reppenburgh uit Duitsland, Henk de Roest en andere uit Nederland. Hulle is internasionale gespreksgenote van Coenie wat oor meer as ‘n dekade.

Wat om te verwag by die konferensie

By die konferensie sal o.a. Pat Keifert, Dirkie Smit, Nico Koopman en Russel Botman van die inleiers wees om ons voortgaande gesprek in te lei – oor wat ons by hom geleer het, waar ons van hom verskil het en waaroor ons nou en in die toekoms behoort te praat. Die konferensie as ‘n voortgaande gesprek sal so gestruktureer wees dat daar soveel as moontlik “oop”  spasie sal wees vir almal om deel te neem aan die voortgaande gesprek.

Jou bydrae by die konferensie?

Om jou aan die dink te sit oor waaroor jy graag ‘n bydrae sal wil maak by die konferensie het ons aan die volgende gedink. Dit is byna onmoontlik om Coenie se bydrae onder een tema of terrein te kategoriseer. Hy het begin as ‘n predikant in die platteland, was later studenteleraar op Stellenbosch. Hy het verskeie kerklike leiersposisies beklee o.a. as moderator van die Wes-Kaap en die Algemene Sinode. Verder was hy direkteur van Buvton en nou Ekklesia. Hy het ‘n groot rol gespeel in die ekumene van post-apartheid Suid-Afrika, navorsing gedoen, geskryf, en dalk meer as enigeen van sy tyd ander aan die dink gesit. Wat wel tiperend van Coenie se bydrae is, is dat dit geplaas word in dié tyd wat ons land deur diepgaande transformasie gegaan het. Hy begin werk in die laat sewentigs, gaan voort  in die onstuimige tagtiger jare, later die transformasie-jare van die neëntigs en die era van post-apartheid Suid-Afrika met die koms van die nuwe demokratiese bedeling. Die konteks van Coenie se teologiese gesprekke was altyd, tye van transisie.

Om ‘n lys te maak van die temas waarin Coenie gepubliseer het, is byna onmoontlik. Sy eerste spesialisasie as student was in pastoraat. Daarna doen hy sy doktorale werk in homiletiek. As praktiese teoloog was hy altyd geïnteresseerd in Sistematiese- en Bybelse teologie. Vir baie predikante is hy bekend vir sy werk in die reeks “Woord teen die Lig” en later by die Leesrooster. Hy word ‘n baanbreker t.o.v. die navorsing oor gemeentes – altyd met ‘n sterk teologiese analise van gemeentes, selfs in tye toe die sosiologiese analise aan die orde van die dag was. Maar dan is daar nog evangelisasie en kerkplanting, leierskap, teologiese opleiding, armoede, ampsbeskouing, volwasse leer ens… wat ons sou kon byvoeg. Sy nadenke was altyd op die breuklyn tussen die kerk en die akademie.

Coenie is bekend vir sy interesse in die tema van transformasie, maar altyd beredeneer vanuit ‘n herinterpretasie van die tradisie.  As kerkleier was sy passie vir die eenheid van die kerk onblusbaar en is hy vandag een van die mees invloedryke ekumeniese leiers in Suid-Afrika as direkteur van Ekklesia. Coenie is tans predikant in sinodale diens met die opdrag Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO) en navorser en direkteur van Ekklesia – die ekumeniese sentrum vir leierskapsontwikkeling en navorsing by die fakulteit teologie van die Universiteit van Stellenbosch.

As jy na hierdie lys van temas en kontekste kyk, kom daar seker temas na vore waaroor jy graag met Coenie en vriende verder gesprek sou wou voer. Stuur asb vir ons dié tema saam met jou inskrywing  en berei voor om in 5-10 min die gesprek aan die gang te sit.

Tema’s wat ons reeds ontvang het, sluit in

  • ‘n Inklusiewe Missionale lees van die Bybel
  • Kerkplanting as uitdaging in hoofstroom-kerke
  • Kerklike opleiding as vorming
  • Herwaardering van David Bosch
  • Die ontwikkeling van ‘n kultuur van onderskeiding in gemeentes
  • Leierskap
  • ‘n Etnografiese analise van gemeentes

Ons hoop dat jy die konferensie kan bywoon en nooi jou graag uit om tema’s te stuur waaroor jy graag ‘n bydrae sou wou maak.

Vriendelike groete

Frederick Marais

Communitas-Bestuurder