|
Die angel van die dood gepluk. ’n Geboorte.
C.J. Langenhoven roep in die ou Stem van Suid-Afrika uiteenlopende emosies bymekaar as hy twee oorgangsrituele in een versreël toeklap. Huwelike en begrafnisse. Bruisende vreugde en dodelike droefheid. By die een huil jy en by die ander een lag jy: ‘By die klink van huweliksklokkies, by die kluitklap op die kis’. Te vinnig gesê. My hart kry nog seer as ek dit lees.
Jesus praat met Nikodemus in Joh 4 oor geboorte. Dit lyk of Nikodemus glad nie die tweede geboorte ‘van bo’ verstaan as Jesus dit veduidelik nie. Paulus praat nogal snaaks oor lewe en oor dood (Fil 1). Geen vrees nie, niks om vreeslik hartseer oor te raak nie. Sterf hy, is hy dankbaar bly om by Jesus te wees. Leef hy, kan hy Goddank nog mense na Jesus toe lei.
In Jesus se koninkryk word vrees vir die dood relatief min. Die hart van die Christelike evangelie verklaar die dood relatief nietig. Jesus het doodgegaan. Maar Jesus het die dood se angel, wat mense so seermaak, uitgetrek en na drie dae uit die kloue van die dood losgebreek. Jesus leef vir ewig en so ons ook as ons in Hom glo. In Joh 11:25 verklaar Jesus sy kinders onsterflik en die dood relatief skadeloos.
Oor geboorte en dood in ’n Christelike konteks kan mense lank filosofeer. Henri Nouwen gee in sy boek, “Our Greatest Gift”, baie waardevolle Christelike insigte oor die dood. Ironies genoeg is hy twee jaar na voltooiing van sy boek (1994) in 1996 oorlede. Een aspek uit dié boek wat my tref, is dat die dood ‘n kolossale geskenk (soos die naam aandui) van God is. Dat dit louter genade is. Dat dit verlossing na ’n beter bedeling is. Dat ons onsself nie naastenby kan indink hoe onbegryplik die dimensies van ons bestaan na die dood gaan wees nie. Dat die dood eintlik ’n geboorteproses is. Die derde geboorte (na ons eerste fisiese geboorte uit ons moederskoot en ons wedergeboorte ‘van bo’ [alhoewel hy dit nie so noem nie]). Hy gebruik ’n aangrypende beeld om dit mee te illustreer (1994:36-37 - vry vertaal).
“Dit is ’n storie oor ’n tweelingboetie en sy sussie wat in die mamma se baarmoeder met mekaar gesels. Die sussie het vir haar boetie gesê: ‘Ek glo daar is lewe na geboorte!’ Die klein boetie het teruggekap en gesê: ‘Nee, nooit! Hierdie is die enigste lewe wat daar is. Hierdie is ons lekker, donker, snoesige blyplek. Ons sal nooit iets anders hoef te doen as om net aan hierdie naelstring wat vir ons kosgee, vas te klou nie.’ Die klein sussie het met hom gestry en gesê: ’Daar moet iets beters as hierdie donker blyplek wees. Daar moet ’n plek wees waar dit lig is en waar dit makliker is om te beweeg.’ Maar sy kon haar boetie nie oortuig nie. Na ’n paar oomblikke van stilte het die sussie huiwerig gesê: ‘Ek het iets anders om vir jou te sê. Maar ek dink jy gaan dit ook nie glo nie. Ek dink regtig daar is ’n moeder!’ Die klein boetie het hom vervies en geskreeu: ‘ ’n Moeder ? Waarvan praat jy ? Nie ek of jy het al ooit ’n moeder gesien nie. Wie plant sulke gedagtes in jou kop ? Soos ek vir jou gesê het, is hierdie die enigste plek wat daar is. Hoekom wil jy altyd iets anders hê ? Hierdie is nie ’n slegte plek nie. Ons het alles wat ons nodig het. Kom ons wees net tevrede met wat ons het.’ Die sussie was baie verbaas oor haar boetie se reaksie en wou eintlik glad nie meer iets sê nie. Maar daar was niemand anders om mee te praat nie. Later het sy tog maar weer begin praat en gesê: ‘Voel jy nie ook af-en-toe sulke drukbewegings nie ? Dit is elke keer nogal ongemaklik en partykeer baie seer. ‘Ja’, antwoord die boetie, ‘nou wat is so spesiaal aan die drukkings ?’ ‘Wel’, het die sussie geantwoord, ‘ek dink daardie drukbe-wegings is besig om ons voor te berei vir ’n ander plek wat baie mooier is as hierdie een. Daar gaan ons ons moeder van aangesig tot aangesig kan sien! Klink dit nie vir jou opwindend nie ?’
Die boetie het nie geantwoord nie. Hy was moeg vir sy sussie se bogpraatjies en het gedink die beste ding wat hy kan doen is om haar te ignoreer en te hoop sy los hom tog net uit.”
Nouwen breek in hierdie boek van hom ‘n ou perspektief nuut oop. Dat ons so krampagtig vasklou aan hierdie lewe dat ons die wonderlikheid van die lewe anderkant die dood waarvan die Bybel so duidelik praat heeltemal toewasem en vuil vat met ons vrese vir die dood. Dit is asof die plek wat Jesus vir ons voorberei (Joh 14:2) en die asemrowende afmetings van die nuwe Jerusalem (Op 21) vir iemand anders geskryf is. In hierdie boek word die dood van ’n gelowige ’n wonderwerk. En die bestemming anderkant die derde geboorte ’n sonderlinge geskenk uit die hand van God.
Fanciskus van Assissi het hom uiteindelik blymoedig oorgegee aan ‘broeder dood’, en Henri Nouwen praat van ‘befriending death’. Hoe realisties of onrealisties dit ook al klink, die spanning bly ’n uitdaging en ’n ope vraag: “Glo jy regtig dat die dood deur Jesus Christus ’n wonderwerk geword het ?”
Die angel van die dood gepluk. Solidariteit.
Ek onthou hoe ek my vergaap het aan die hospitaalwerkers by ’n sendingstasie in KZN. Net mooi niks was te veel gevra nie. Bedwasse, toilette skrop, geduldig sit en voer, verbande om septiese wonde, terminale versorging, komberse uitwas, wat ook al gedoen moes word, is met passie en groot, diep glimlagte gedoen. Omdat ek nie Zoeloe kan praat nie het ek later vir een van die flukses gevra: ‘How much do you get paid ?’ Met ‘n frons wat sê: ‘Die man moet mal wees’ en toe later ’n groot tandelag het sy gesê: ‘No sir, we don’t get paid. We are doing it for one another.’ Ek het die woorde van Paulus in 1 Kor 12:26 onthou: ‘As een lid ly, ly al die lede saam; as een lid geëer word is al die lede saam bly.’
’n Aspek wat deur Henry Nouwen in sy boek “Our Greatest Gift” uitgelig word wat die angel en skerp snykante van die dood uitpluk is om die vreugde daarvan te snap dat ons aan mekaar behoort. Solidariteit! Ons moet daarom mense help wat lewe en mense help wat doodgaan. Ons gaan soos hulle sterf. Ons gaan almal eensaam en arm doodgaan soos alle ander mense. Mense reg oor die wêreld wat sterf word ons leermeesters oor die dood. Of hulle sterf in geweld of van honger of van ’n pandemie of a.g.v. siekte of in weelde of in ’n oorlog of hoe ook al. Hulle verskriklike pyn en hulle hartseer vra van ons om een te word met hulle. Hy skryf (1994:41-42):
“I am deeply convinced that it is this joy, the joy of being the same as others, of belonging to one human family that allows us to die well. I really do not know how I or anyone else can be prepared to die when our main concern is to count the trophies we have collected during our best years. The great gift hidden in our dying is the gift of unity with all people.”
Henri Nouwen het in 1986 in Kanada sy laaste ± tien jaar saam met L’Arch, Toronto, se ‘Daybreak’ sorgsentrum deurgebring waar hy een geword het met verstandelik gestremde mense en hulle help versorg het. Sy eie lewe het die beginsel van solidariteit in Jesus en sy mense verduidelik. Hy vertel die volgende verhaal (1994:46-47 - vry vertaal).
“’n Vriendin van my wat baie siek was wou op ’n pelgrimstog na Lourdes in Frankryk gaan vir gebed en genesing. Ek was baie bang dat sy verward kan terugkeer as ’n wonderwerk nie gebeur en sy nie genees word nie. Maar toe sy terugkeer het sy kom vertel: ‘Ek het nog nooit so baie siek mense bymekaar gesien nie. Toe ek van aangesig tot aangesig met hulle swaarkry in aanraking gekom het wou ek nie meer ’n wonderwerk vir myself hê nie. Ek wou glad nie meer die uitsondering wees wat genesing ontvang terwyl hulle almal siek is nie. Ek het ’n diep begeerte begin voel om een van hulle te wees en net soos hulle te wees. In plaas van dat ek gebid het dat die Here my gesond maak, het ek gebid dat ek genoeg genade sal ontvang om my swaarkry te dra in solidariteit met hulle almal.”
“Ek was diep geraak deur hierdie radikale verandering in my vriendin se gebede. Sy het gehoop om gesond te word. Nou wou sy net soos almal van hulle met die pyn saamleef as een van hulle susters. Hierdie storie verduidelik watter geweldige mates van genesing in solidariteit met ander mense opgesluit lê.”
Dave Viljoen - Kenridge gemeente
|