Soek in dié webtuiste of die web verskaf deur FreeFind

Epos
Tuis Kruisgewys Seisoen van Luister Boekaankondigings/Resesensies Gemeentedienste Vennote NGK Skakels Leesroosters Sagteware Boeke en artikels Ander
Resensies (Coenie Burger)

John Burgess. After Baptism: Shaping the Christian Life

Milfred Minatrea. Shaped by God’s Heart: The Passion and Practices of Missional Churches

Lawrence W Ferris. Ten Commandments for Pastors new to a Congregation

Paul F M Zahl. A Short Systematic Theology en The First Christian: Universal Truth in the Teaching of Jesus

Robert Webber. Ancient-Future Faith: Rethinking Evangelicalism for a Post-Modern World

Leanne van Dyk. Believing in Jesus Christ

Fred Craddock. The Cherry Log Sermons

The Gospel of Matthew (NIGTC) – John Nolland

The Gospel of Mark (NIGTC) – R T France

Colossians & Philemon (THNTC) – Marianne Meye Thompson

Philippians (THNTC) – Stephen Fowl

1 Corinthians (The Church’s Bible) – Judith Kovacs

Nouwen, H.J.M. Our Greatest Gift. A Meditation on Dying and Caring - Bydrae van Dave Viljoen (Kenridge gemeente)

John Burgess. After Baptism: Shaping the Christian Life. WJK. 2005

Die sentrale tema van hierdie boek is nie die Doop of selfs die sakramente nie, maar die belangrike saak van Christelike identiteit en die vorming daarvan.

In ‘n tyd waarin ons baie wonder en praat oor ons eiendomlike Christelike identiteit bied Burgess wyse hulp aan diep vanuit ons tradisie. Hy moedig ons aan om die twee christelike sakramente nl die Doop en die Nagmaal weer ernstig te neem en ook om die Tien Gebooie as identiteitsmerkers tot hul reg te laat kom. Op die manier – meen hy – kan ons ons kinders, en ook onsself help, om te verstaan wie ons regtig is.

In die eerste en laaste hoofstukke wys hy hoe die twee sakramente by uitstek bedoel is om ons te bevestig in ons geloof in Christus. Die sakramente help ons nie net om Christus en sy heilswerk beter te begryp nie, maar wil ons help om ons nuwe identiteit in Christus toe te eien en ons eie te maak. Burgess het my oortuig. Ons gaan die identiteitsprobleme in ons kerk nie oplos as ons net op die prediking vertrou en dat wil komplementeer met allerhande ander nuwe planne nie. Die sakramente is vir ons gegee vir hierdie doel. As ons aan die sakramente weer hulle plek kan gee en dit met die erns bejeën wat dit verdien, kan dit ‘n yslike verskil aan ons geloof maak.

Burgess se klem op die sakramente was vir my verwags. Wat onverwags was, is dat hy ook die Tien Gebooie bytrek as ‘n identiteitsmerker en hulp vir die geloof. Die middelste vier hoofstukke van die boek handel daaroor. Burgess se argument hieroor is baie oortuigend – veral vir gereformeerdes. Ons glo dat die Wet nie net ‘n tugmeester is wie se rol hoofsaaklik negatief is nie; ons glo – soos Israel – dat die wet deel van die Here se goeie gawes aan ons is en ‘n duidelike teken van sy liefde en verkiesing. Deur die ontvangs van hierdie gawe en deur ons lewens daarna te laat skik word ons van tien verskillende kante gemerk en geëien as kinders van die lewende God.

Wat ook baie interessant is, is dat Burgess die vierde, vyfde en sesde gebooie uitsonder as van besondere belang vir die vorming van die Christelike lewe. Dat ons die sabbat vier en reg gebruik en ouers en huise het waar ons die goed leer en dat respek vir ander en hulle lewens by ons ingeprent word as ‘n basiese lewenswaarde, is van die onderliggende geheime van die Christelike geloofsgemeenskap.

Ek hoop dat hierdie stimulerende en uitstekende boek heelwat lesers gaan vind. Net al die temas wat dit opneem, maak dit die moeite werd om te lees.

John Burgess is Professor in Sistematiese Teologie by die Presbiteriaanse Seminarium in Pittsburgh.

GD

Milfred Minatrea. Shaped by God’s Heart: The Passion and Practices of Missional Churches. Jossey-Bass. 2004

Die saak van missionêre gemeentes is besig om in baie kerke die wêreld oor aandag te kry. Soos die subtitel aandui, wil hierdie boek ook deel wees van hierdie gesprek. Minatrea is ‘n Amerikaanse Baptis wat vanuit sy Missional Church Center in Texas heelwat kerke bedien met advies en leiding.

In die sentrale deel van die boek beskryf hy nege essensiële praktyke wat hy meen om te sien by missionêre gemeentes. ‘n Oorsig van die nege kan lesers dalk help om te besluit of hulle die boek self wil aanskaf en verder bekyk:

Missionêre gemeentes :

  1. het baie hoë vereistes vir lidmaatskap;
  2. weet dat egtheid baie belangrik is – en nie net godsdienstige egtheid nie, maar lewensegtheid;
  3. leer mense om te gehoorsaam en nie met om te weet nie;
  4. beplan en bedink die erediens weekliks met toewyding;
  5. leef apostolies (dit is wetend dat jy ‘n gestuurde is);
  6. verwag dat die Here julle gaan gebruik om die wêreld te verander;
  7. kry eers duidelikheid oor jou doelstellings en beplan dan jou aksies;
  8. meet groei deur die mate waarin jy bediening kan oorgee en nie deur die mate waarin jy dit beheer nie en
  9. plaas koninkryksbelange altyd eerste.

In die laaste deel van die boek, gee hy ook aandag aan strukture en strategieë vir missionêre gemeentes.

Mense wat al heelwat gelees het oor missionêre gemeentes gaan nie veel nuut hier hoor nie. Minatrea se krag lê in die feit dat hy goed formuleer en ‘n goeie aanvoeling vir die praktyk het. Soos ‘n goeie evangelikaal gee hy nie net feite en kennis nie, maar wil hy veral praktiese raad gee oor hoe gemeentes in die werklikheid van hulle lewe hierdie skuif van instandhouding na sending kan maak.

GD

Lawrence W Ferris. Ten Commandments for Pastors new to a Congregation. Eerdmans 2003

Hierdie is regtig nie die diepsinnigste teologiese boek wat ek al gelees het nie, en tog weet ek dat ‘n paar jong predikante (en dalk selfs ‘n paar oueres ook!) baie pyn en verdriet gespaar sou wees as hulle die boekie kon lees voor hulle in ‘n nuwe gemeente begin werk het.

Die skrywer Lawrence Ferris het baie ondervind van die soort van ding. Hy is al jare lank besig om aan jong predikante wat in nuwe gemeentes gaan werk, advies te gee oor hulle ingesteldheid en verwagtings tydens die eerste paar maande.

Benewens verwagte advies soos dat ‘n mens van meet af baie erns met jou prediking moet maak en nie te hoë verwagtings moet skep nie, is daar ook verrassende punte. Sy eerste opdrag is dat die nuwe predikant “a cultural historian” sal wees en baie moeite sal doen om die geskiedenis en kultuur van die gemeente en sy mense te verstaan. Hy maak die waarneming dat elke nuwe predikant as’t ware ‘n sekere hoeveelheid “kapitaal” (hy praat van “blue chips for change”) kry om veranderings in die gemeente te maak. Hy waarsku dan dat jy die kapitaal wyslik moet bestee en nie oorhaastig opgebruik deur ondeurdagte en onsinnige vernuwings in te voer nie. Houvas die kapitaal ‘n bietjie en gebruik vir sake wat regtig saak maak.

Hy beklemtoon ook die belangrikheid van goeie selfbestuur en versorging, van goeie finansiële en administratiewe bestuur en dat ‘n mens ‘n duidelike bybelse prentjie van predikantswerk sal hê.

Soos ek sê: nie ‘n plaasvervanger vir Barth of Calvyn nie. Maar twee of drie ure met dié boekie kan ‘n nuwe dominee baie pyn en verleentheid en teleurstelling spaar.

GD

Paul F M Zahl. A Short Systematic Theology. Eerdmans. 2000. En

The First Christian: Universal Truth in the Teaching of Jesus. Eerdmans. 2003

Paul Zahl is ‘n baie interessante Anglikaanse predikant en teoloog in die VSA. Hoewel hy voltyds in die bediening is (hy is deken van die Cathedral Church in Alabama), skryf hy heelwat en het hy ‘n diep verbintenis aan goeie teologiese refleksie. Wat sy bydrae anders maak as wat ‘n mens van ‘n Anglikaan sal verwag, het waarskynlik te doen met die feit dat hy sy doktorale werk in Duitsland onder Moltmann gedoen het oor Ernst Käsemann se verstaan van die Pauliniese regverdigingsleer.

A Short Systematic Theology is ‘n poging van Zahl om die Christelike dogmatiek te beskryf nie in al sy rykdom en nuanses nie, maar na sy essensie. Dit is juis hierdie bondigheid wat Zahl se poging interessant maak. Self het ek nie met die helfte van sy keuses saamgestem nie, maar die wins is dat hy jou op elke bladsy laat dink oor wat jyself glo. Daarby skryf Zahl helder en boeiend en probeer hy vashou aan die kern van die evangelie.

Die boek het drie kort dele wat elk ‘n aantal positiewe stellings bevat:

  • Die onderwerp van teologie: Jesus Christus.
  • Die inhoud van teologie: Krag in die bloed.
  • Die metode van teologie en van die lewe : libertas Christiana.

Dit is seker nie eienaardig dat die geheelpoging duidelike tekens dra van Käsemann se Lutherse teologie nie. Ek moet bysê: ek weet van Anglikane wat slegter keuses gemaak het oor wie om van te leer.

Die tweede boekie The First Christian is ‘n poging tot ‘n Christologie. Die hoofargument van die boek is ‘n verweer teen die standpunt dat Jesus net vanuit sy Joodse identiteit verstaan kan word. Soos die titel suggereer, wil Zahl Jesus eerder verstaan as die eerste Christen.

Die substansie van sy argument is dat Jesus op vyf kritieke punte (hy verduidelik dit in die laaste twee hoofstukke) gebreek het met die Judaïsme en dat ons die uniekheid van die Christendom moet soek in die vyf motiewe. Dit sluit in

  • die moontlikheid van bekering;
  • bekering vind plaas in die lig van Christus se deurslaggewende oorwinning;
  • sonde moet materieel verstaan word en nie net formeel en kulties nie;
  • totale verdorwenheid en onvermoë van die mens om sigself te red en
  • die unieke verlossing wat Jesus bied.

Te midde van beperkings is ook die boekie baie lesenswaardig en stimulerend. Dit bied ‘n bondige en verstaanbare inleiding op die Jesus-debat en verduidelik die onderskeie standpunte op ‘n helder manier. Ek waardeer ook Zahl se poging om die uniekheid van Jesus te verstaan – hoewel ek meen dat hy by kernmomente van die evangelie, soos die opstanding, verbygaan.

GD

Robert Webber. Ancient-Future Faith: Rethinking Evangelicalism for a Post-Modern World. Baker Books. 1999

Een van die verrassende nuwe wendings in teologiese denke is dat soveel mense besig is om die vroeë geskiedenis van die kerk te herlees (of vir baie van ons: die eerste keer behoorlik te lees!). Jy hoor mense praat van teoloë met snaakse Griekse name van wie jy nog nooit gehoor het nie!

Die rede hiervoor is die oortuiging dat die Christelike kerk in ‘n na-Konstantynse era (in die sin dat dit nie meer amptelike staatsbeskerming en -ondersteuning geniet nie) is en wat sy situasie betref al hoe meer parallelle het met die vroeë, voor-Konstantynse kerk.

Robert Webber se boek bied ‘n wonderlike inleiding vir mense wat iets meer van hierdie parallel wil verstaan. Webber het as liturgiese teoloog jare terug al die vroeë kerk “ontdek” en het al heelwat geskryf hieroor. Sy argument in die boek is dat Evangelikale teoloë en predikante wat iets wil beteken vir post-moderne mense geweldig gehelp kan word deur die teologiese denke van die vroeë kerk.

In die boek konsentreer hy op vyf velde: die verstaan van Christus, die kerk, die erediens, spritualiteit en sending. Hy probeer in elke hoofstuk aantoon hoe en wat die kerk van vandag kan leer van die geestelike werk en teologiese refleksie van die vroeë kerk.

Soos dikwels die geval is met evangelikale teoloë, is die skemas en konneksie wat gemaak word hier en daar nie oortuigend nie en net te maklik. Aan die anderkant het ek ongelooflik waardering vir Webber se passie vir ‘n evangelie wat destyds en vandag nog werk. Hy is ‘n goeie historikus, en ‘n passievolle evangelis en in die geheel gesien ‘n baie betroubare gids.

‘n Waardevolle boek wat predikante met nuwe oë na die geskiedenis – en na vandag se uitdagings – kan laat kyk.

GD

Leanne van Dyk. Believing in Jesus Christ. WJK. 2002

Believing in Jesus Christ is deel van Geneva Press se reeks Foundations of Christian Faith. In die reeks word gepoog om van die fundamentele leerstukke en praktyke van die Christelike geloof op ‘n bondige (ongeveer 100-120 paginas) en bevatlike wyse vir gewone mense te verduidelik. In die geheel is dit ‘n goeie reeks – ek het al ‘n hele paar van die boekies in die reeks gelees. Ek moet egter sê dat hierdie poging van Leanne van Dyk werklik uitnemend is – na my mening die beste een sover in die reeks.

In ‘n kwessie van 114 bladsye neem sy ‘n mens in die boekie deur ‘n ongelooflike klomp materiaal en debatte – alles op ‘n baie ingeligte en verstaanbare manier.

In hoofstuk 1 (The very heart of God) neem sy die lesers deur die bybelse materiaal en kyk histories en heilshistories na die momente van Jesus se lewe.

In hoofstuk 2 (A gallery of Portraits: What can we know about Jesus?) gee sy aandag aan die debat oor die historiese Jesus. Sy beoordeel al drie die sg “quests” en wys op die winste maar ook die komplikasies van die debatte.

In die derde hoofstuk (Treasure in Clay Pots: What does the Church say about Jesus) kyk sy na die klassieke belydenis(se) van die kerk en spesifiek hoe die kerk oor Christus gepraat het. Sy gee aandag aan die vroeë belydenis dat Jesus beide God en mens was en ook aan die reformasie se formulering van die regverdigmaking deur die geloof: “the extravagant claim that God accepts us through Christ”.

In die laaste drie hoofstukke fokus sy op die werk van Christus en bespreek die drie klassieke versoeningsteorieë – krities en konstruktief.

In die geheel slaag sy uitnemend daarin om die klassieke belydenis van die vroeë kerk en die reformasie onverkort te handhaaf, maar ook te wys hoe nuwe tye ons uitdaag om die klassieke waarhede op nuwe maniere te vertel en te verduidelik. Voeg daarby dat sy die vermoë het om vars en modern te formuleer.

Ek kan die boek baie, baie sterk aanbeveel – vir lidmate sowel as predikante. In ‘n tyd waarin dit uiters noodsaaklik is dat ons bybels-getrou maar ook helder en verstaanbaar oor Christus praat, is hierdie boekie ‘n wonderlike hulpmiddel.

GD

Fred Craddock. The Cherry Log Sermons. WJK. 2001.

In my oë – en in die oë van vele ander – was Fred Craddock nog altyd die doyen van eietydse homilete. Sy boeke oor die prediking en preekteorie is van die beste oor die onderwerp wat ek ooit gelees het.

Hoewel ek hom meer kere hoor praat het, het ek nooit die voorreg gehad om hom te hoor preek nie. Ek het wel van sy preke gelees en van ander gehoor dat hy ‘n wonderlike manier gehad het om die nuutheid, varsheid en ongelooflike genade van die evangelie uit tekste te lig.

The Cherry Log Sermons, ‘n bundel met twintig van Craddock se preke, is ‘n baie goeie inleiding in die werk van hierdie vaardige en begenadigde prediker. Die lees daarvan help ‘n mens nie net om self weer nuut te dink oor die evangelie nie, maar bied predikers ook die geleentheid om te leer van ‘n buitengewone vakman.

Let op vir drie elemente wat altyd deel is van Craddock se manier van werk:

1. Die preek gaan nie in die eerste plek oor waarhede en teorieë nie maar oor werklike mense en hulle lewens. Dalk was Craddock se grootste krag dat hy diep kon inkyk in die lewens van mense en veral die patos en pyn van mense se lewens kon verstaan.

2. Die genadige, verlossende, bevrydende boodskap wat weerklink in hierdie situasies van patos en pyn was altyd die unieke evangelie van Christus en nooit morele lessies of algemene godsdienstige waarhede nie. Ek het nog altyd gedink dat deel van Craddock se krag was dat hy ook Nuwe Testament doseer het en ‘n Bybelstudent was wat ‘n paar uitstekende kommentare geskryf het.

3. Wat ‘n mens ook opval by die lees van die preke is die narratiewe en vertellende styl – wat so kenmerkend ook van Craddock se homiletiese teorie is. Daar is ‘n pragtige storie agter hierdie vertellende manier van preek. Craddock vertel self dat hy die eerste paar jaar in die bediening baie gesukkel het en gevoel het dat hy nie ordentlik gepreek kry in die klassieke sin van die woord nie – soveel so dat hy oorweeg het om die bediening te verlaat. Hoewel hy gevoel het dat hy op die kansel sukkel, het hy agtergekom dat hy in meer informele situasies (waar hy nie probeer preek het nie, maar net gepraat het) baie beter kommunikeer. Hy het besluit – as ‘n laaste plan voor hy die bediening verlaat – te kyk of hy die meer infomele geselsstyl kan oordra na die kansel. Onnodig om te sê: dit het baie goed gewerk en ‘n inherente deel van Craddock se homiletiese teorie geword.

GD

The Gospel of Matthew (NIGTC) – John Nolland. Eerdmans. 2005.

The Gospel of Mark (NIGTC) – R T France. Eerdmans. 2003.

Colossians & Philemon (THNTC) – Marianne Meye Thompson. Eerdmans. 2005.

Philippians (THNTC) – Stephen Fowl. Eerdmans. 2005.

1 Corinthians (The Church’s Bible) – Judith Kovacs. Eerdmans. 2005.

Die meeste van ons is goed bekend met die New International Greek Testament Commentary waarvan die eerste dele (Marshall op Lukas en Davids op Johannes) reeds in die 1980’s verskyn het. Dit is ‘n waardevolle reeks wat besondere aandag gee aan die Griekse teks. In die laaste paar jaar het twee stewige nuwe toevoegings verskyn, nl France se kommentaar op Markus en Nolland s’n op Matteus. Beide die outeurs is behoudende Britte. RT France was tot onlangs hoof van Wycliffe Hall in Oxford. Nolland doseer Nuwe Testament by Trinity College in Bristol. Die klem in die reeks val op uitvoerige en indringende vers-vir-vers kommentaar van die boek.

Eerdmans het intussen ook met twee ander baie interessante en nodige kommentaarreekse begin. Joel Green en Max Turner is die eindredakteurs van die reeks The Two Horizons New Testament Commentary. Die fokus in die reeks val spesifiek op ‘n teologiese lees en interpretasie van die Nuwe Testament teks. Daar word heelwat aandag gegee aan die teologiese benutting van die teks in die verlede asook die betekenis van die teks vir ons dag en tyd. Die skrywers word nie gebind deur ‘n vaste patroon nie, maar beide bg kommentare in die reeks het na die teks en perikoopoorsig ‘n baie stewige laaste deel waarin gevra word na die teologiese bydrae van die boek.

Beide die kommentare van Fowl en Marianne Meye Thompson maak beslis ‘n nuwe bydrae. Die opset van die reeks forseer kommentatore om nie net die kleiner vrae van die teks te probeer antwoord nie maar ook goeie aandag te gee aan die groter vrae wat deur die teks op die tafel geplaas word. Dit is ook ‘n wins dat kommentatore gedruk word om iets te sê oor die huidige revelansie van die boek.

Die twee nuwe reekse waarmee Eerdmans begin het staan onder die gesamentlike titel van The Church’s Bible en is waarskynlik ‘n direkte uitvloeisel van die nuwe belangstelling in die Vroeë Kerk. Baker het met ‘n soortgelyke reeks begin (onder redakteurskap van Rusty Reno) en Thomas Oden werk ook aan so ‘n reeks.

Die bedoeling van die reeks is om Christendenkers uit die eerste millennium (hulle gee die keerdatums aan as 250 – 800 nC) se kommentaar op verskillende Bybelboeke aan die orde te stel. In die reeks word ‘n kort inleiding op die boek gegee, asook ‘n oorsig oor die werke van die belangrikste teoloë wat oor die spesifieke boek geskryf het. So bv het veral Origenes, Chrysostemos, Cyrillus van Alexandrië, Gregorius van Nyssa en Augustinus heelwat te sê gehad oor I Korintiërs. Die korpus van die boek is dan ‘n vers-vir-vers kommentaar bestaande uit passasies uit die werke van vroeë teoloë.

‘n Mens sal nouliks net hierdie reeks kan gebruik as jy die Nuwe Testament wil lees en behoorlik verstaan. Daar kan egter geen twyfel wees dat hierdie ‘n wonderlike poging is om die wysheid van die eeue vir ons te ontsluit nie. Min predikante het toegang tot hierdie bronne en nog minder die tyd om die verwysings na te gaan en op te soek.

GD

Nouwen, H.J.M. Our Greatest Gift. A Meditation on Dying and Caring. Hodder & Stoughton , Great Britain 1994. (Deur Dave Viljoen)

Henri Nouwen teaching at the Yale Divinity School in 1971 - http://upload.wikimedia.org/wikipedia/en/7/78/HenriNouwen.jpg

Die angel van die dood gepluk. ’n Geboorte.

C.J. Langenhoven roep in die ou Stem van Suid-Afrika uiteenlopende emosies bymekaar as hy twee oorgangsrituele in een versreël toeklap. Huwelike en begrafnisse. Bruisende vreugde en dodelike droefheid. By die een huil jy en by die ander een lag jy: ‘By die klink van huweliksklokkies, by die kluitklap op die kis’. Te vinnig gesê. My hart kry nog seer as ek dit lees.

Jesus praat met Nikodemus in Joh 4 oor geboorte.  Dit lyk of Nikodemus glad nie die tweede geboorte ‘van bo’ verstaan as Jesus dit veduidelik nie. Paulus praat nogal snaaks oor lewe en oor dood  (Fil 1).  Geen vrees nie, niks om vreeslik hartseer oor te raak nie. Sterf hy, is hy dankbaar bly om by Jesus te wees. Leef hy, kan hy Goddank nog mense na Jesus toe lei.

 In Jesus se koninkryk word vrees vir die dood  relatief min. Die hart van die Christelike evangelie verklaar die dood relatief nietig. Jesus het doodgegaan. Maar Jesus het die dood se angel, wat mense so seermaak, uitgetrek en na drie dae uit die kloue van die dood losgebreek. Jesus leef vir ewig en so ons ook as ons in Hom glo.  In Joh 11:25 verklaar Jesus sy kinders onsterflik en die dood relatief skadeloos.  

Oor geboorte en dood in ’n Christelike konteks kan mense lank filosofeer. Henri Nouwen gee in sy boek, “Our Greatest Gift”, baie waardevolle Christelike insigte oor die dood. Ironies genoeg is hy twee jaar na voltooiing van sy boek (1994) in 1996 oorlede. Een aspek uit dié boek wat my tref, is dat die dood ‘n kolossale geskenk  (soos die naam aandui) van God is. Dat dit louter genade is.  Dat dit verlossing na ’n beter bedeling is. Dat ons onsself nie naastenby kan indink hoe onbegryplik die dimensies van ons bestaan na die dood gaan wees nie. Dat die dood eintlik ’n geboorteproses is. Die derde geboorte (na ons eerste fisiese geboorte uit ons moederskoot en ons wedergeboorte ‘van bo’ [alhoewel hy dit nie so noem nie]). Hy gebruik ’n aangrypende beeld om dit mee te illustreer (1994:36-37 - vry vertaal).

“Dit is ’n storie oor ’n tweelingboetie en sy sussie wat in die mamma se baarmoeder met mekaar gesels. Die sussie het vir haar boetie gesê: ‘Ek glo daar is lewe na geboorte!’  Die klein boetie het teruggekap en gesê: ‘Nee, nooit! Hierdie is die enigste lewe wat daar is. Hierdie is ons lekker, donker, snoesige blyplek. Ons sal nooit iets anders hoef te doen as om net aan hierdie naelstring wat vir ons kosgee, vas te klou nie.’ Die klein sussie het met hom gestry en gesê: ’Daar moet iets beters as hierdie donker blyplek wees. Daar moet ’n plek wees waar dit lig is en waar dit makliker is om te beweeg.’  Maar sy kon haar boetie nie oortuig nie.  Na ’n paar oomblikke van stilte het die sussie huiwerig gesê: ‘Ek het iets anders om vir jou te sê. Maar ek dink jy gaan dit ook nie glo nie. Ek dink regtig daar is ’n moeder!’  Die klein boetie het hom vervies en geskreeu: ‘ ’n Moeder ? Waarvan praat jy ?  Nie ek of jy het al ooit ’n moeder gesien nie.  Wie plant sulke gedagtes in jou kop ? Soos ek vir jou gesê het, is hierdie die enigste plek wat daar is. Hoekom wil jy altyd  iets anders hê ? Hierdie is nie ’n slegte plek nie. Ons het alles wat ons nodig het. Kom ons wees net tevrede met wat ons het.’  Die sussie was baie verbaas oor haar boetie se reaksie en wou eintlik glad nie meer iets sê nie. Maar daar was niemand anders om mee te praat nie. Later het sy tog maar weer begin praat en gesê: ‘Voel jy nie ook af-en-toe sulke drukbewegings nie ?  Dit is elke keer nogal ongemaklik en partykeer baie seer.  ‘Ja’, antwoord die boetie, ‘nou wat is so spesiaal aan die drukkings ?’  ‘Wel’, het die sussie geantwoord, ‘ek dink daardie drukbe-wegings is besig om ons voor te berei vir ’n ander plek wat baie mooier is as hierdie een. Daar gaan ons ons moeder van aangesig tot aangesig kan sien!  Klink dit nie vir jou opwindend nie ?’

Die boetie het nie geantwoord nie. Hy was moeg vir sy sussie se bogpraatjies en het gedink die beste ding wat hy kan doen is om haar te ignoreer en te hoop sy los hom tog net uit.”

Nouwen breek in hierdie boek van hom ‘n ou perspektief nuut oop. Dat ons so krampagtig vasklou aan hierdie lewe dat ons die wonderlikheid van die lewe anderkant die dood waarvan die Bybel so duidelik praat heeltemal toewasem en vuil vat met ons vrese vir die dood.  Dit is asof die plek wat Jesus vir ons voorberei (Joh 14:2) en die asemrowende afmetings van die nuwe Jerusalem (Op 21) vir iemand anders geskryf is. In hierdie boek word die dood  van ’n gelowige ’n wonderwerk. En die bestemming anderkant die derde geboorte ’n sonderlinge geskenk uit die hand van God.

Fanciskus van Assissi het hom uiteindelik blymoedig oorgegee aan ‘broeder dood’, en Henri Nouwen praat van ‘befriending death’. Hoe realisties of onrealisties dit ook al klink, die spanning bly ’n uitdaging en ’n ope vraag: “Glo jy regtig dat die dood deur Jesus Christus ’n wonderwerk geword het ?” 

Die angel van die dood gepluk. Solidariteit.

Ek onthou hoe ek my vergaap het aan die hospitaalwerkers by ’n sendingstasie in KZN. Net mooi niks was te veel gevra nie. Bedwasse, toilette skrop, geduldig sit en voer,  verbande om septiese wonde, terminale versorging, komberse uitwas, wat ook al gedoen moes word, is met passie en groot, diep glimlagte gedoen. Omdat ek nie Zoeloe kan praat nie het ek later vir een van die flukses gevra: ‘How much do you get paid ?’ Met ‘n frons wat sê: ‘Die man moet mal wees’ en toe later ’n groot tandelag het sy gesê: ‘No sir, we don’t get paid. We are doing it for one another.’  Ek het die woorde van Paulus in 1 Kor 12:26 onthou: ‘As een lid ly, ly al die lede saam; as een lid geëer word is al die lede saam bly.’

’n Aspek wat deur Henry Nouwen in sy boek “Our Greatest Gift” uitgelig word wat die angel en skerp snykante van die dood uitpluk is om die vreugde daarvan te snap dat ons aan mekaar behoort. Solidariteit!  Ons moet daarom mense help wat lewe en mense help wat doodgaan.  Ons gaan soos hulle sterf. Ons gaan almal eensaam en arm doodgaan soos alle ander mense. Mense reg oor die wêreld wat sterf word ons leermeesters oor die dood. Of hulle sterf in geweld of van honger of van ’n pandemie of a.g.v. siekte of in weelde of in ’n oorlog of hoe ook al.  Hulle verskriklike pyn en hulle hartseer vra van ons om een te word met hulle. Hy skryf (1994:41-42):

I am deeply convinced that it is this joy, the joy of being the same as others, of belonging to one human family that allows us to die well. I really do not know how I or anyone else can be prepared to die when our main concern is to count the trophies we have collected during our best years. The great gift hidden in our dying is the gift of unity with all people.

Henri Nouwen het in 1986 in Kanada sy laaste ± tien jaar saam met L’Arch, Toronto, se ‘Daybreak’ sorgsentrum deurgebring waar hy een geword het met verstandelik gestremde mense en hulle help versorg het. Sy eie lewe het die beginsel van solidariteit in Jesus en sy mense verduidelik. Hy vertel die volgende verhaal (1994:46-47  - vry vertaal).

“’n Vriendin van my wat baie siek was wou op ’n pelgrimstog na Lourdes in Frankryk gaan vir gebed en genesing. Ek was baie bang dat sy verward kan terugkeer as ’n wonderwerk nie gebeur en sy nie genees word nie.  Maar toe sy terugkeer het sy kom vertel: ‘Ek het nog nooit so baie siek mense bymekaar gesien nie. Toe ek van aangesig tot aangesig met hulle swaarkry in aanraking gekom het wou ek nie meer ’n wonderwerk vir myself hê nie. Ek wou glad nie meer die uitsondering wees wat genesing ontvang terwyl hulle almal siek is nie. Ek het ’n diep begeerte begin voel om een van hulle te wees en net soos hulle te wees. In plaas van dat ek gebid het dat die Here my gesond maak, het ek gebid dat ek genoeg genade sal ontvang om my swaarkry te dra in solidariteit met hulle almal.”

“Ek was diep geraak deur hierdie radikale verandering in my vriendin se gebede. Sy het gehoop om gesond te word. Nou wou sy net soos almal van hulle met die pyn saamleef as een van hulle susters.  Hierdie storie verduidelik watter geweldige mates van genesing in  solidariteit met ander mense opgesluit lê.”

Dave Viljoen - Kenridge gemeente

GD

SKB