|
Inleiding
Jan Bisschoff en Kobus Schoeman gee ‘n oorsigtelike beskrywing van die opname. Dit is daarvolgens belangrik om te verstaan:
1. dat Kerkspieël slegs poog om empiriese gegewens te verskaf as invalshoek in nadenke oor die kerk;
2. dat Kerkspieël leiers kan help om huidige tendense te verstaan vir beter onderskeiding van God se pad vorentoe.
6 Fokusareas uit die empiriese gegewens
In 6 artikels gee hulle van die empiriese gegewens weer uit die opname met ‘n paar korter en langer oorsigtelike perspektiewe uit hulle interpretasie van die data.
1. Leierskap. Jan wys hoe leraars se leierskap op verskillende wyses in gemeentes “gelegitimeer” word. Die data van Kerkspieël 2006 word vergelyk met ‘n soortgelyke ondersoek in 2001 in die VSA (interessant: akademiese kwalifikasies, fisiese voorkoms en geslag is baie meer belangrik in die VSA as in SA … en ras meer belangrik in SA as in die VSA!). Die goeie nuus is dat VBO iets aan dié “legitimasie” kan doen, te wete: werk aan bedieningsbevoegdheid, roeping, vertroue en status (georden en bevestig is meer belangrik in SA as in die VSA, hoewel deur die bril van leraars self ...).
2. Lidmaatskap patrone. Kobus kyk na verskuiwings van lidmate en wys daarop dat 1) die totale lidmaattal die afgelope 10 jaar stabiel bly, 2) die kerk ten spyte van emigrasie stabiel gebly het (belangrik!), 3) die kerk verouder (interessant: die bo-60-jariges is nou byna gelyk aan die onder-16-jariges! Terloops: in 1981 was ⅓ doop en ⅔ belydend, en in 2006 was ¼ doop en ¾ belydend) en 4) denominasionele verskuiwings weglaatbaar klein is, maar dat gemeentelike migrasie in 6 jaar verdubbel het van 2000 af. Die goeie nuus is dus dat ons eintlik baie beter gedoen het as wat die rapporte oor ons was, maar dat dit wil lyk asof ‘n verbruikerskultuur besig is om te begin posvat. Dit bied uitdagings aan die wyse waarop ons oor lidmate dink en wat ons aan die publiek rapporteer!
3. Konflik in gemeentes. Hier het ons te doene met die senuweepunte wat konflik aktiveer in gemeentes. Die voorkoms van konflik is hoog, 73% van die respondente rapporteer konflik, 21% ernstige konflik. Konflik oor verandering in musiekstyl en aanbiddingstyl, sowel as die leierskap in gemeentes word heelwat meer kere gerapporteer as leerstellige en politieke verskille of seksuele wangedrag (laag). Kerkeenheid lê so in die middel van die skaal, maar Jan wys terg daarop dat die tyd van die opname hier heel moontlik ‘n rol speel (Augustus 2006 net voor die Esselenpark en Achterberg konferensies). Die goeie nuus is dat daar minder konflik oor leerstellige en politiese verskille is, maar die slegte nuus is dat musiek en aanbidding, dit wat in die hart van die erediens lê, ‘n al hoe groter verskilpunt word. Dit wil lyk asof ons groter aandag moet gee op dié gebied, en dat dit nie genoeg is om bv. met FLAM en ander insette kan werk nie, maar meer indringend na gemeentebegeleiding hieroor moet kyk. Miskien ‘n Seisoen van Luister op die gebied van musiek en aanbidding?!!!
4. Betrokkenheid by nood in die samelewing. Vrae is gevra rondom die sewe reuse wat SACLA in 2003 geïdentifiseer het as uitdagings vir die SA samelewing: 1) MIV/Vigs, 2) misdaad en korrupsie, 3) geweld, 4) armoede en werkloosheid, 5) seksisme, 6) rassisme, 7) gesinsgeweld. Die gegewens is ook gekorreleer met die grootte van gemeentes sowel as die bedieningsmodel, wat onder andere gewys het dat voorstedelike gemeentes meer doen as plattelandse gemeentes (materiële bronne speel heel moontlik ‘n rol) en gemeentes met ‘n kleingroepbediening meer doen as gemeentes met ‘n tradisionele wyksmodel. Die goeie nuus is dat 80% van gemeentes aandag aan armoede en werkloosheid projekte gee, en 71% aan gesinskrisisse. Die slegte nuus is dat MIV/Vigs, rassisme en seksisme nie baie aandag kry nie, en dat 50% van gemeentes niks aan 5 van die 7 reuse doen nie!
5. Erediens as ontmoetingsgebeure. Die erediens word beskou uit die hoek van bywoningspatrone, musiek en begeleiding, ander eredienste en die gebruik van riglyne vir die erediens. Van die waarnemings: kinderdienste (65% van gemeentes) laat bywoning verbeter en aanddienste se bywoning het verbeter (4%-6% van 2004 tot 2006). Al hoe meer gemeentes het eie liederebundels (42% - Liedboek word deurgaans ook gebruik) en ‘n begeleiersgroep/orkes (63,6%). 16,8% het ander eredienste toegespits op ander taal- en kultuurgroepe. 65% van gemeentes gebruik soms (of altyd) die Leesrooster (Buvton) en 30% die Woordwyser (Oostelike sinode). Die goeie nuus is dat gemeentes reageer op lidmate se behoeftes in terme van kinders, begeleiding en die musiek wat gebruik word, dat aanddiens bywoning verbeter (maar dit is min om mee te begin!) en dat op taal- en kultuurbehoeftes gereageer word. Interessant is dat die gebruik van Leesroosters nou aangevul word met ander aanbiedinge. Wonder wat regtig hier aan die gang is?
6. Die kerkraad en die funksionering van die gemeente. Vrae rondom roepingsverstaan het die ontstellende resultaat gehad dat 38% van gemeentes geen (of onbekende) doelwitte het (vs 34% in 2004) nie! Van dié wat wel doelwitte het, kan net 18% as “missionêre/gestuurde doelwitte” beskou word. Slegs 33% verstaan hulleself as missionêre gemeentes. Meer gemeentes sien hulleself as sterwend as in 2004 en baie is net besig met instandhouding. In terme van die kerkraad is dit verfrissend om te sien dat ouderlinge al hoe meer as voorsitters van kerkrade gekies word (op van 2,7% in 2004 na 19,1% in 2006), die dae van een predikant wat vir ‘n baie lang termyn as voorsitter dien, blykbaar verby is (daling van 59,3% in 2004 na 20,6% in 2006!!!) en dat die dae van die leierleraar terselfdertyd blykbaar aangebreek het (op van 8,4% in 2004 na 25,6% in 2006). Die impak van kerkvergaderings (ringe [59.1%], sinodes [54.6%], Algemene Sinode [46.6%]) neem toe (ongeveer 10% toename van 2004 af). Meer vroue begin op kerkrade dien (40% is diakens en 20% is ouderlinge). Hier is regtig werk nodig! Die vrae toets die selfverstaan van die leierskap van gemeentes. Doelgerigte aandag is hier nodig. Maar die data soek om verdere navorsing! Wat is regtig aan die gang in kerkrade in terme van leierskap en samestelling? Miskien moet daar ‘n M- of D-student aan die werk spring …
4 onderskeidende Response
Ek het vier respondente gevra om geloofsonderskeidend te reageer op die empiriese gegewens hierbo:
1. Malan Nel oor Leierskap en Lidmaatskap patrone
2. Danie van Tonder oor Konflik in gemeentes
3. Chris Jones oor Betrokkenheid by nood
4. Jan Woest oor Eredienste en Kerkrade
Daar is nog fassinerende gegewens in Kerkspieël wat Kobus nou onlangs by die Moderamen vergadering gegee het (maar dit is vir ‘n ander dag!):
- Bybel: 38% lidmate het ‘n letterlike interpretasie teenoor 80% van leraars wat met ‘n historiese interpretasie werk! Praat van ‘n uitdaging!
- Geestelike groei: gemeentes help 40% van die respondente, vir 28% van hulle werk hulle eie aktiwiteite, en 12% kry dit by ander gemeentes!
- Eenheid: Leraars is vir 68% positief oor sigbare eenheid, maar dit is af van 72% in 2004? 70% van leiers is positief oor sigbare eenheid. Dit lyk ook asof mense positief is, maar min doen daaraan …
- Belhar: Leraars is 48% positief oor Belhar, maar dit is af van 52% in 2004? Net 25% van leiers is egter positief oor Belhar. Dit bly ‘n tameletjie!
|