Soek in dié webtuiste of die web verskaf deur FreeFind

Epos
Tuis Kruisgewys Seisoen van Luister Boekaankondigings/Resesensies Gemeentedienste Vennote NGK Skakels Leesroosters Sagteware Boeke en artikels Ander
Boekaankondigings - Coenie Burger
Wright, JH. 2006. The Mission of God: Unlocking the Bible’s Grand Narrative
Ott, Craig ea. 2007.  Globalizing Theology: Belief and Practice in an era of World Christianity.
Fleming, D.  2005. Contextualization in the New Testament: Patterns for Theology and Mission .
Hellerman, JH. 2001. The Ancient Church as Family.
Bevans, SB en Schroeder, RP.  2005. Constants in Context: A Theology of Mission for Today.
Myers, JR. 2007. Organic Community: Creating a Place where People naturally connect.

Wright, JH. 2006. The Mission of God: Unlocking the Bible’s Grand Narrative.  IVP Academic.  581p

Vir predikante wat Bybels en teologies oor missionêre gemeente wil dink en ook daaroor wil preek en praat met die gemeente is hierdie waarskynlik die beste, populêre eenband-publikasie oor die onderwerp.

Soos die sub-titel aandui is die fokus van die boek nie soseer op gemeentes en gemeentelike planne nie, maar eerder op die plek van die Missio Dei in die Bybel en in die gedagte en dade van God.  In werklikheid is die boek `n soort Bybelse teologie – Wright noem dit tegelyk `n Bybelse teologie van sending en `n missionêre lees van die Bybelverhaal. 

Die boek het vier dele:

  • Die eerste deel se tema is “Bible and Mission” en ons kry `n kykie hoe Wright dink oor hermeneutiese vrae.
  • Die tweede deel handel oor “The God of Mission”. Wright kyk na die Gods openbaring van die OT en die NT onderskeidelik en wys afgodery aan as dalk die heel grootste gevaar vir die kerk.
  • Die derde deel is redelik uitvoerig en handel oor die kerk “The People of Mission”.
  • Die vierde deel gaan oor “The Arena of Mission” en hier kyk Wright na die reikwydte van die sending.  Hy gee nie net aandag aan die mensdom nie, maar oor aan die aarde en die nasies as terreine van God se werk.

Wright is `n goeie gids.  Hy is `n gerespekteerde leier in die wêreldwye evangeliese gemeenskap, op `n manier John Stott se protégé.  Hy is `n Ou Testament teoloog en direkteur van Langham Partnership International (ook bekend as John Stott Ministries).

`n Indrukwekkend en gebalanseerde boek wat handige en betroubare materiaal vir  Bybelstudies en preke bied.

GD

Ott, Craig ea. 2007.  Globalizing Theology: Belief and Practice in an era of World Christianity.  Apollos IVP. 382p.

Globalizing Theology bevat `n veertiental opstelle van missioloë of teoloë met `n diep missiologiese verbintenis oor die effek van globalisering op die sending van die kerk.

Die fokus van die boek is `n bietjie anders as wat `n mens by die eerste hoor sou dink.  Dit is nie maar nog `n boek oor globalisering, en die werklikheid en algemene uitwerking daarvan nie.  

Missioloë het nog altyd in hulle werk gepleit daarvoor dat die verskillendheid en uniekheid van kulturele kontekste verreken word in die oordra van die evangelie aan bepaalde groepe. Omdat die Woord vlees geword het, moet ons ook bereid wees om baie diep te luister en “in te gaan” in die verskillende kulture waarmee ons werk. Globalisering bring nou egter `n interessante en onverwagte wending in die proses. Missioloë begin agterkom dat daar nie net andersheid en uniekhede in die verskillende kulture in verskillende lande is nie, maar ook al hoe meer ooreenstemming of verwantskap – vermoedelik die gevolg van globalisering!  Die boek bekyk die verskynsel van nader.

  • In die eerste deel word gekyk hoe globalisering teologiese refleksie beïnvloed (artikels deur oa Tienou en Walls).
  • In deel twee word gekyk na `n aantal spesifieke kwessies (Vanhoozer skryf oor teologiese metode, die Strongs oor die Jerusalem-byeenkoms in Hand 15 en Van Engen oor die “glocal church”).
  • Deel drie kyk na die implikasie van globalisering vir sending (met artikels oor teologiese opleiding, die effek van `n globale ekonomie, globalisering en nasionalisme en oor die mediërende rol van die sendeling).

`n Belangrike boek vir almal wat wil saamdink en saamwerk aan die Missio Dei in ons hedendaagse wêreld.

GD

Fleming, D.  2005. Contextualization in the New Testament: Patterns for Theology and Mission .  Apollos IVP.  377p

Die missionêre kerk se uitdaging tot kontekstualisering hang volgens Fleming saam met die “Jesus Model” wat ons in Johannes 1 kry. Die NT sê dat die ewige Woord van God vlees geword het in Jesus van Nasaret en so die Vader aan ons “gewys” het.  Dit was nie `n algemene vleeswording nie, maar `n konkrete spesifieke een – “in all of its scandalous particularity”.

In ons uitreik na ander met die evangelie word iets hiervan ook van ons verwag.  Soos Jesus moet ons in ander se lewens en werklikheid ingaan om saam met hulle te probeer verstaan wat die evangelie vir hulle beteken.  Deur die geskiedenis het die kerk geleer dat hierdie nie `n eenvoudige proses is nie en dat `n mens na verskillende kante kan fouteer. Hoe ons kontekstualiseer (of inkultureer) en hoe ver ons daarmee gaan, is van die vrae wat die kerk en teologie deur die eeue besig gehou het.

Die fokus van hierdie studie is dat Fleming aandag vra vir voorbeelde van kontekstualisering in die NT.  Hy wys tereg daarop dat kontekstualisering nie eers iets is wat na die NT periode begin het nie. Dit was van die eerste dag af deel van die lewe van die Christelike kerk.  In die boek kyk Fleming na nege voorbeelde van kontekstualisering wat ons reeds in die NT vind.  Twee van die hoofstukke gaan oor Handeling (waar die voortdurende oorsteek van kulturele grense met die evangelie `n sentrale rol speel), vyf hoofstukke handel oor Paulus se werk en dan is daar een elk oor die Evangelies en Openbaring.

In die laaste hoofstuk trek Fleming sy analise bymekaar en plaas hy `n model vir die toetsing van goeie kontekstualisering op die tafel.  Hy meen dat daar voortdurend vier toetse aangelê moet word:

  • wat ons doen moet getoets word aan die Skrif,
  • en aan die instemming van die wyer ekumeniese kerk;
  • ons moet bid en oop wees vir die leiding van die Gees en
  • vra of wat ons doen regtig transformasie en Bybelse bekering in die praktyk tot gevolg het.

Nie alles in die boek is nuut nie, en daar sal ook meningsverskil oor sekere interpretasies wees, maar in die geheel gesien is dit `n boek wat ons in die regte rigting vorentoe wil help.

GD

Hellerman, JH. 2001. The Ancient Church as Family. Fortress Press.295p

Daar is die laaste dekade of wat baie geskryf oor die kerk as `n nuwe familie. Die herontdekking van die familie-metafoor as `n sentrale ekklesiologiese konsep in die Nuwe Testament het baie goeie gevolge vir die kerk en gemeentes gehad. 

Dit is belangrik dat ons nie te gou meen dat ons alles verstaan wat met die beeld bedoel word nie. Soos alle Skrifwaarhede kan hierdie een ook skeefgetrek word en gevaarlik raak as ons nie sy nuanses vashou en voortdurend bly luister na wat die Skrif ons daaroor leer nie.

In die verband help die studie van Hellerman ons. Hy vra dat ons nie te gou lyne na ons eie verstaan van familie trek as ons hoor dat die kerk `n familie is nie. Dit moet in die eerste plek verstaan word teen die agtergrond van die Mediterreense familiesisteem en dan moet nog weer fyn gekyk word na die eie beslag of gestalte wat die NT gee aan die gemeente as `n eiesoortige familie. 

Ek het met die lees van die  boek drie boodskappe weer helder gehoor:

  • Die familieband was destyds verreweg die diepste band wat mense aan mekaar kon bind. As die kerk as `n nuwe familie beskryf word, sê dit vir ons dat hierdie nuwe band aan God, Christus en die kerk nou die diepste lojaliteit van ons lewe moet wees.  Alle ander bande word hiermee fundamenteel gerelativeer.
  • Die onderlinge verbondenheid, sorg en ondersteuning van die familie teenoor mekaar (broers en susters) is `n reusagtige deel van familie-wees.  As dit nie daar is nie, kan min van die ander dinge wat gedoen moet word, gebeur. 
  • Derdens beklemtoon Hy die Christus-familie se sonderlinge ingesteldheid van openheid teenoor vreemdelinge en buitestaanders.  Hy skryf : “Jesus’ most radical point of departure from contemporary Judean ideas and praxis regarding the eschatological people of God is Jesus’ orientation towards outsiders” (p80).  Dit is `n wesenskenmerk van die nuwe volk van God dat die etniese begrensdheid van die tipiese Mediterreens familie asook die Ou Testamentiese “kerk” deurbreek word deur `n “transetniese” nuwe familie- eenheid in Christus.

`n Aanhaling van Arland Jacobson (p225) bly my by na die lees van die boek:

“It is well-known that the early Christian church was a house-church movement. It could hardly have been different early on. Indeed the continuity between Q and early Christianity is probably not to be found in its theology so much as in its ecclesiology.  The persistence of group formation, that is, may have been a more powerful factor in early Christianity than the persistence of theological conceptions and that, in turn, may indicate that we need to pay at least as much attention to the specific social context of the early church as its theology.”

Ons moet nooit, nooit die sentrale rol van geloof en teologie onderskat nie – maar die teologie kan nie reg en goed werk as dit nie uitdrukking vind in die ekklesiologiese lewe en gestaltes van die kerk nie. 

GD

Bevans, SB en Schroeder, RP.  2005. Constants in Context: A Theology of Mission for Today.  Orbis. 488p

Hierdie indrukwekkende studie van Bevans en Schroeder gaan vir die volgende tien jaar waarskynlik die rol speel in missiologiese kringe wat David Bosch se standaardwerk die vorige tien jaar gespeel het.

Dit is `n omvattende werk wat nie net goeie historiese en teologiese oorsigte probeer bied nie, maar wat ook eie interpretasies gee en keuses maak oor wat hulle dink vorentoe belangrik mag wees vir die teologie en die kerk.

Die boek bestaan uit drie dele:

  • In die eerste deel klaar hulle die Bybelse en teologiese grondslae uit. Handelinge word gelees as die basisverhaal van die sending en hulle besluit om Gonzalez se drie tipes teologieë (rondom die benaderings van onderskeidelik Tertullianus, Origenes en Irenaeus) te gebruik as uitgangspunt vir hulle eie indelings.  
  • Die tweede deel – redelik uitvoerig – bied `n oorsig oor die geskiedenis van die sending en wys veral hoe die modelle hulself in die geskiedenis uitgespeel het.  Dit is `n interessante en belangrike deel wat op sigself al die boek die moeite werd maak.
  • In die derde deel beweeg hulle na ons situasie vandag en beskryf vier benaderings wat of aandag kry of behoort te kry.  Hulle noem dit:
    • Mission as Participation in the Mission of the Triune God
    • Mission as Liberation Service of the Reign of God
    • Mission as Proclamation of Jesus Christ as the Universal Saviour
    • En Mission as Prophetic Dialogue (een wat hulle self sterk bepleit).

As ek `n lys van tien boek moet opstel wat predikante van ons tyd behoort te lees, sal hierdie een verseker op die lys wees.

GD

Myers, JR. 2007. Organic Community: Creating a Place where People naturally connect. Baker Books/Emergent Village. 190p.

Die boek van Myers is baie anders as dié wat bo bespreek is.  Dit gaan nie oor missionêre gemeentes nie en daar is nie veel direkte teologie of selfs teksverwysings nie.  Die skrywers wat aangehaal word is vir 80% aan my onbekend en kom uit velde soos argitektuur en besigheid.

En tog sal dit baie van ons predikante verskriklik baie help om die boekie te lees.  Myers verstaan mense en veral groepe mense (dit is gemeenskappe) goed.  Daar is wonderlike insigte in die boekie oor hoe gemeenskappe werk. Dit kan predikante help omdat ek meen dat juis dit die deel van ons opleiding was wat oor die jare die minste en slegste aandag gekry het.  `n Gemeente is sekerlik veel meer as maar net `n hegte gemeenskap van mense; maar die werklikheid leer ons dat as jou gemeente nie ook `n hegte gemeenskap is nie, jy min van die ander wonderlike goed gaan regkry.

Myers is skepties oor die neiging vandag in die Weste om gemeentes en gemeenskappe te oor-organiseer met ons meesterplanne en doelgedrewe bedienings. Die sentrale argument van sy boek is dat gemeenskappe `n organiese kant het wat meer spontaan werk as wat ons dikwels dink. As ons die regte verhoudings en kommunikasie in `n gemeente skep, sal die goeie en regte dinge meer spontaan gebeur as wat ons gedink het moontlik is.

Hy suggereer `n klompie klemverskuiwings (wat sterk korreleer met `n beweging van societas na communitas): van meesterplan na organiese orde; van voorskryf na beskryf; van “bottom line”-evaluering na `n gewone hoor van verhale; van posisionele leierskap na rotasie leierskap, van “noun-centric” taal na “verb-centric” taal, van verantwoordbaarheid teenoor mekaar (ala `n “skrutinerende ouditeur”) na redigering van mekaar (soos nagegaan deur `n simpatieke redakteur wat nie foute probeer uitwys nie, maar die beskrewe verhaal helderder wil maak); ens. 

Mens kan dit ook in ander woorde sê: Dit gaan oor verhoudings.  Myers meen dat oop, positiewe, nie-veroordelende, ondersteunende verhoudings in die gemeente al die verskil gaan maak. Die meeste gelowiges het liefde en ondersteuning nodig om die beste uit hulle te haal; nie veroordeling of organisering nie.

GD

SKB