AddThis Social Bookmark Button

Lyn Holness se persoonlik-historiese reis  met die maagd-moeder Maria in die nuwe boek Journeying with Mary, mond uit in beide ‘n verrykte Godsbeeld as ‘n verruimde mensbeeld via die simboliese trefkrag van die onderskeie interpretasies van Maria deur die eeue. Sy kry dit reg om beide die historiese (the myth that became fact) as die simboliese interpretasies van Maria en Jesus in balans te hou. Haar skets van Maria as brugbouer en inkarnasie-voltooier is besonder treffend.

Die boek is in 2008 uitgegee deur Lux Verbi.BM. Gebaseer op haar akademiese navorsing is die boek van 180 bladsye ‘n neerslag van Lyn se persoonlik-historiese reis met die maagd-moeder Maria wat uitmond in beide ‘n verrykte Godsbeeld as ‘n verruimde mensbeeld via die simboliese trefkrag van die onderskeie interpretasies van Maria deur die eeue.Lyn het die boek geskryf in 12 hoofstukke versprei oor 4 dele.

  • In deel een stel sy ons bekend aan die gesprek met en reis saam met Maria vanuit die Skrif regdeur die eeue, wat resoneer met die reis-metafoor van die Koptiese ikoon op die voorblad wat die vlug van Maria, Josef en Jesus na Egipte uitbeeld.
  • In deel twee en drie hanteer sy die primêre Bybeltekste rondom Maria, en groepeer dit onder die opskrifte, Aankondiging en Inkarnasie.
  • In deel vier gee sy haar refleksie oor die huidige betekenis van Maria.
Voor elke hoofstuk haal sy verskeie dele aan uit die skat van gebede en meditasies oor Maria deur die eeu wat daaraan ‘n "devotional" karakter verleen, hoewel daarin ook heelwat transformatiewe idees opgesluit lê: 
  • "Before Jesus was his mother." (Maria Sacerdota uit Life Prayers - p 5);
  • "He is our Mother in human nature." (Julian van Norwich - p 96);
  • "Mary the dawn, Christ the Perfect Day." (The Visions on the Rue du Bac uit die Liturgy of the Hours - p 152).
  • "As she is your Mother, so, in a very real sense she is our Mother too." ( Lyn se eie gedig? - p 170).
Lyn verbind telkens haar ontvouende perspektief op Maria aan die verskeie persoonlike besoeke aan plekke van betekenis vir Maria navorsing.  
  • Maria se huis in Efese op Nightingale Mountain bevestig bv. haar ervaring dat Maria van die randte van haar geloof na die sentrum geskuif het, wat haar meer geestelik-emosioneel (devotional) laat reageer as dogmaties (12).
  • Die beskrywing van Maria in die ryk mosaïekwerk in die Chora kerk in Istanbul as die "Container of the Uncontainable" is die storie wat die perspektief inlei van Maria as die "locus of divine mystery" (71-2).
  • Die inskrywing van Jacob Lipschitz, ‘n Ortodokse Jood, op ‘n bronsbeeld van Maria op die eiland Iona, aan die weskus van Skotland: "(I) made this Virgin ... for a good understanding of the people on earth, that the Spirit may reign." (137) verbind sy aan die idee van Maria as die brugbouer tussen verskillende geloofstradisies.

Daarom dat sy in die voorwoord uitspel dat Maria en die inspirasie wat haar storie vandag nog het, ‘n betekenis het wat meer simbolies as histories is en nooi sy die lesers uit om die reis met Maria te onderneem, "beyond the scriptures, but with the scriptures." (14).

Twee outeurs het Lyn diep geraak in haar reis met Maria - Elizabeth Johnson (Dangerous Memories: A Mosaic of Mary in Scripture en Truly our Sister: A Theology of Mary in the Communion of Saints) en Peter Daino (Stabat Mater: Noble Icon of the Outcast and The Poor en Mary: Mother of Sorrows, Mother of Defiance). Die digwerk van Sheila Cussons word ook goedkeurend vermeld.

Deel 1 - Introducing Mary

Haar gesprek met Maria begin met ‘n preek in dialoog met Robert Steiner waarin van die hooftemas van die boek aangeroer word: "in the very ordinary ... the extraordinary was happening" (20, sien ook 80), "God invites us to be co-creators ... in relationship"(21) en "God uses broken bodies, bodies in pain just as much as whole ones."(22).
En daarmee gee sy ‘n verrassend-vroulike perspektief op God: "God comes to us in a quiet, unspectacular way - from the dark, quiet, still, unexpected places - from inside a woman's body, actually. This is precisely where and how God comes to us and can use us - in the ordinary things; in our relationships and in our brokenness."

Sy wys in hoofstuk twee en drie:

  • Hoe beperkend die Bybelse blindekol van Protestante kan wees - Maria se openheid vir God, die risiko wat sy geneem het deur op God te vertrou, haar getrouheid en standvastigheid ten spyte van ‘n moontlik onverdiende terugwysing by die huwelik in Kana en haar teenwoordigheid tot die einde toe by die kruis (anders as Petrus en die ander dissipels).
  • Hoe anders die Hervormers, Zwingli, Luther (onderskei tussen ‘n dogmatiese en geestelike benadering en huiwer nie om hom op Maria se intersessie te beroep nie) en Calvyn (verwys na Maria tot ‘n mindere mate, maar praat tog van haar as die een wat ons na die Christus toe lei) oor Maria geoordeel het as wat hulle navolgers bereid was om te doen.
  • Hoe dubbelsinnig oor die betekenis van Maria geoordeel word, aan die een kant as ‘n simbool van seksuele onderdrukking, en aan die ander kant as ‘n simbool van menslike bevryding. Sy bly ‘n karakter van misterie.
  • Die prominente plek van Maria in die Koran, (sûra 19) as die maagd-moeder van Jesus, Islam se mees geseënde vrou - wat haar laat wonder of sy nie ‘n brug-figuur tussen die godsdienste kan word nie.
  • Hoe die twee belydenisse oor Maria, die maagdelike geboorte en die idee van Maria as die Teotokos (moeder van God) aan die een kant die menslikheid van Jesus onderstreep en aan die ander kant haar vir ewig aan haar Seun verbind.
Deel 2 - Annunciation

In dié deel verken Lyn die verdeelheid oor die rol wat Maria in sieninge oor die Inkarnasie speel (as co-creator of co-redeemer in die Katolieke en Oosters-Ortodokse tradisies versus die mid-posisie van co-operation by sommige soos Wainwright of as passiewe ontvanger in die meer populêre Protestantse sieninge van bv. Barth).  
Sy stel voor dat, op voetspoor van Cynthia Rigby se verstaan van Maria as in ‘n verbondsverhouding met God, ‘n mens Maria kan teken as een wat deelneem in God se plan (co-operation). Sy beskou dit steeds as ‘n "uit-genade-alleen" posisie en met verwysing na Bonhoeffer, beskryf sy Maria as een wat hierdie dissipelskap as genadegawe ontvang het.

Besonder interessant is haar mening dat die ooreenkomste van die Maria-Jesus verhaal met die antieke en herhalende mitiese konsep van ‘n ma wat aan ‘n gode-seun geboorte skenk (Isis en Horus; Cybele en Attis) verklaar moet word as "the myth that became fact." (CS Lewis) (76).

Deel 3 - Incarnation

In hierdie deel verken Lyn ‘n paar aspekte van die perspektiewe wat ‘n verbondsverhouding-verstaan van Maria as moeder van God op die teologie van die Inkarnasie moontlik maak:

  • Die belang van die moeder-kind beeld of simbool lê vir haar in die alternatiewe beeld wat dit van die wêreld en van God moontlik maak (83). Teerheid en sensitiwiteit word te maklik onderskat of onderwaardeer.
  • Die gehoorsaamheid van Maria definieer vir Lyn supreme activity, nie passiwiteit nie (90). Dit plaas Maria volgens haar vierkantig in die profetiese tradisie en herdefinieer moederskap as een van die rolle van vroue en nie die oorheersende realiteit nie.
  • Die Moeder-van-God belydenis, soos ander vroulike verlossingsbeeldspraak (Jer 31:15; Rom 8:18), gee ‘n waardigheid aan beide moederskap as aan "the simple reality of being human." (94)
  • Maria se fisiese moederskap maak nie van haar ‘n transendente moeder nie, maar maak juis vir God immanent (aangehaal uit Beattie, God's Mother, Eve's Advocate) (97).
  • Die drie genealogiese tradisies verenig in Maria, die koninklike Dawidiese lyn (Matteus), die priesterlike lyn (Lukas) en die vroulike lyn (vgl. die 4 vroue in die geslaglyste). Daarmee word die gawe van God regtig beliggaam: "Christ entered our reality from ‘within'- from the quiet and dark of the womb. He emerged, as we all do, from deep within life, through the ordinary process of birth, in utter vulnerability. He did not come as an incursion into our reality from ‘out there'. (114)
  • Maria, geteken as die gemarginaliseerde een van Bethlehem tot Golgota (Fr Tissa Balasuriya, Mary and Human Liberation: The Story and the Text), beteken dat Maria ook ‘n simbool is vir dié in pyn, die Mater Dolorosa (Treurende Moeder) (117), soos die bekende ikoon van Robert Lenz genoem is as ‘n solidêre respons op die protes van Argentynse moeders in die 1976 teen die verlies van hulle geliefdes. Só word Maria die versekering vir lydendes dat God met hulle voel en vir hulle omgee.
Deel 4 - Reflecting on Themes

In die laaste terugskouende deel verken Lyn ander uitstaande (en onderskatte) temas van ‘n Maria-teologie: vriendskap (Maria en Elizabeth) en brugbouer (Jacob Lipschitz se bronsbeeld). Sy gee ook aandag aan die resente gerapporteerde verskynings van Maria (1968 in Egipte; 2007 in Benoni) sonder om dit net voor die voet af te skiet: "In becoming less dismissive, I realise that the issues involved are complex, and God's ways of meeting with people far more expansive that in our ignorance and sometimes arrogance we might be inclined to believe." (144)

Sy skryf dit onder toe andere aan boundary experiences en die effek wat pelgrimstogte en wonderwerke op mense het (148-9), baie soos die tongespraak en "slaying in the Spirit" ervarings. Uiteindelik is dit die vrug van geestelike ervarings wat tel, nie die vorm wat dit aanneem nie.

Lyn verwelkom daarom vir Maria, veral in die Protestantse tradisie om vier redes:

1. Denkende Protestante gebruik reeds meer en meer van die ander ryk geestelike bronne van die skat van kerklike tradisies en bronne naas die Bybel;
2. Sola Scriptura is ‘n konsep wat altyd onderhewig is aan interpretasie;
3. Maria dien as ‘n rigtingwyser na kwaliteite van God wat ons te maklik verontagsaam;
4. Ons kan met groot vrug die simboliese betekenis van Maria benut.

Dit bring haar by die gekwalifiseerde standpunt dat Maria wel as co-redeemer met Christus gesien kan word: "in the same sense as we are all called to be, as his Body on earth." (168). Maria is die simbool van wat ons almal kan word, inderdaad geroep word om te word. Só word die Inkarnasie voltooi deur God se mense, sodat in die konteks van die kerk, Maria ook ons eie Moeder word.

Opsomming

Lyn se persoonlik-historiese reis met die maagd-moeder Maria mond uit in beide ‘n verrykte Godsbeeld as ‘n verruimde mensbeeld via die simboliese trefkrag van die onderskeie interpretasies van Maria deur die eeue. Sy kry dit reg om beide die historiese (the myth that became fact) as die simboliese interpretasies van Maria en Jesus in balans te hou. Haar skets van Maria as brugbouer en inkarnasie-voltooier is besonder treffend.

Add comment