AddThis Social Bookmark Button

Faith in Action is onontbeerlike leesstof vir enigiemand in Suidelike Afrika wat belangstel in publieke teologie, en spesifiek die wyse waarop die Anglikaanse kerk dit bedryf. Die boek se aktuele, maar ook uiteenlopende bydraes word saamgebind deur die 4 inleidings- en afsluitingsartikels van aartsbiskop Ndungane by elke deel, maar illustreer ook op ‘n manier die tese van die boek, dat daar geen neutrale grond in die publieke sfeer is. Elkeen moet deelneem met die: "particularity of their own beliefs, principles and values - and must justify those both through lifestyle and through words." (47).

Die boek van 416 bladsye is in 2008 uitgegee deur Lux Verbi.BM ter ere van en in gesprek met die afgetrede Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Njongonkulu Ndungane oor publieke teologie. Sarah Rowland Jones, sy voormalige navorsing en ekumeniese raadgewer, het die redaksie hanteer.

Faith in Action bevat 31 bydraes van ‘n wye verskeidenheid van skrywers uit beide die kerklik-teologiese as die publieke sfeer. Dit is ‘n huldeblyk aan Winston Hugh Njongonkulu Ndungane na 34 jaar se bediening, waarvan die laaste 11 as aartsbiskop was.

In vier dele fokus die boek op spesifieke areas van Ndungane se lewe en bediening, in die kerk (Faith and the Church), in die publieke sfeer (Faith in the Public Square), in Afrika (Faith in Africa) en in die wêreld (Faith and the World). As sodanig is die boek egter ook ‘n kykie in die afgelope eeu en ‘n half se ontwikkeling van Anglikanisme in Suidelike Afrika.

Elke deel begin en eindig met ‘n bydrae van Ndungane self, waarna die skrywers die kwessies wat hy aangeroer het verder neem. In opset beloof die boek dus om soos Ndungane se naam, Njongonkulu, hoog (nkulu) te mik (njongo), soos sy oupa hom inderdaad genoem het!

‘n Interessante perspektief van die aartsbiskop op ‘n publieke teologie, is dat daar geen neutrale grond is waarop die mensdom kan ontmoet nie. Elkeen moet deelneem met die: "particularity of their own beliefs, principles and values - and must justify those both through lifestyle and through words." (47).

Deel 1 - Faith and the Church

Deel 1 word begin met ‘n aanhaling uit Ef 4:1: "Live a life worthy of the calling you have received." en sluit af met Kol 1:17: "In Christ ... all things hold together." Daarmee word die basis van sy ekklesiologie gegee, as ‘n groeiende verhouding met die trinitariese God wat in sy wese ‘n model van samewerking gee: "distinct yet complementary, one in purpose ... always open to one another, but never consumed or indistinct." (67).

Die gedeelte sluit ‘n uitstekende bydrae van Gregory Cameron in, Communion in mutuality and hospitality, waar onder andere die suksesverhaal van die Global Christian Forum van die World Council of Churches vertel word. Toe hulle agterkom dat die ekumeniese gesprek nie veel vorder nie en veral nie tussen Forums voortgaan nie, het hulle besluit om ‘n kwart van hulle vergader tyd te spandeer aan die luister na mekaar se Christus-verhale. Daardeur, sê Cameron, het hulle geslaag om ‘n nuwe dinamiek te skep wat gefundeer is op "mutuality and commonality" (118). "It is hard to over-estimate the cumulative effect of listening to the diverse and yet parallel ways in which disciples spoke of their encounter with God and with Christ and of the various vocations which led them to the current point in their pilgrimage." (119).

Gasvryheid en vrygewigheid is immers sentrale elemente in enige religieuse ontmoeting - die ruimte wat geskep word vir gespreksgenote "to speak their mind" sowel as om bereid te wees om "the most sympathetic reading" van die ander standpunte te gee.

Ndungane se laaste artikel verken "The heartlands of Anglicanism" aan die hand van drie hoekstene: Skrif, tradisie en die rede, waarin die tradisie gekarakteriseer word as gereformeerd, katoliek en kultureel-"engaged". Hy bepleit die behoud van die middel-grond weens die gevaar van polarisasie: "these broad rich heartlands of our Anglican heritage ... is not something to be fought out at the limits of conservatism or liberalism." (126).

Deel 2 - Faith in the Public Square

Deel 2 beskryf die integrale rol van geloof in die publieke arena, meer spesifiek in die inleidingsartikel op 8 terreine van bestuur, korrupsie ("we must name and shame" [149]), mag, burgerlike gemeenskap, familie, versoening, vroue, MIV en Vigs en belig die rol van die African Monitor, ‘n onafhanklike liggaam waarby hy steeds betrokke is na sy aftrede. Kortom - geen area van die lewe lê buite die sfeer van geloof en buite die belang van God nie. Die kerk moet help: "shape the nature of the public space in ways that allow them to make a full contribution to the flourishing of pluralist human society in all its rich diversity." (141).

Allan Boesak oorweeg die herder dienskneg metafoor as ‘n paradigma vir leierskap in die publieke sfeer en Desmond Tutu, die vorige aartsbiskop van Kaapstad, die wyse waarop vergifnis en versoening ware vrede kan bring. Die hoop, sê die leier van die Waarheids- en Versoeningskommissie, lê hierin: "In forgiving we are engaging not just in a mundane act, we are sharing in the divine enterprise, with cosmic consequences to advance or retard the work of bringing all things to a unity in Christ ... Forgiving is so wonderfully hopeful. It refuses to give up on anyone." (203). Ons is geroep om soos God te wees! "An enemy is a friend waiting to be made." (204).

Die perspektief wat Tutu bring op die voordele van "restorative justice" eerder as "retributive justice" bly ‘n helder oproep aan enige konflik situasie (206).

Ndungane sluit die deel af met die voordele van ‘n fokus op waardes, aangehaak by die uitsprake van Psalm 19 oor die wet van God: (reviving the soul, making wise the simple, rejoicing the heart, enlightening the eyes, enduring truths, finer than gold, sweeter than honey).

Deel 3 - Faith in Africa

In hierdie deel maak Ndungane self ‘n belangrike bydrae oor die "dreams, values, faith and respect" wat nodig is om ‘n multi-kulturele samelewing te bou waarin alle mense "fully human" is. En hy sluit af met ‘n oproep aan die kerk om die belydenis van Gal 3:28 ernstig te neem, dat alle mense, vrouens en mans, een is in Christus Jesus. Geen wonder dat Brigalia Ntombemhlophe Bam hom uSombawo omncinci noem, "little brother", in haar artikel Little brother bishop, the champion of women.
‘n Besondere kykie na "The unbearable lightness of being African" deur Luke Lungile Pato, plaas die kwessie van lyding, as ‘n enkele gemene deler van alle Afrikane in die sentrum van die bespreking van geloof in Afrika. Hy noem dit "the single common experience, the single defining question." (242). Omdat ‘n mens dit nie kan ontwyk nie, is die hoop geleë in die blote betrokke raak daarby, sonder om dit te verheerlik, en deur die betrokkenheid ons menslikheid te ontdek en uit te druk. Dit is die weg van ubuntu.

Adekeye Adebajo skryf in Mandela and Rhodes: a monstrous marriage oor die vir-hom-ontstellende Mandela Rhodes Foundation wat in 2002 gestig is, en ten spyte van die geskenk van 10 miljoen pond, wat baie vir opvoeding en gesond-wees vir kinders beteken het, hom laat wonder of Mandela die saak van versoening nie ‘n bietjie te ver geneem het nie. Die empire-bouer Rhodes het Afrika oop gemaak vir Europa, soos toenmalige pres Thabo Mbeki dit gestel het, maar die nasie-bouer Mandela het Afrika weer vir haarself teruggegee. En Adebajo voel, ten spyte daarvan dat hyself vroeër ‘n Rhodes beurs gebruik het om verder te gaan studeer, dat dit te pragmaties gestel is, en vra die vraag of Rhodes nie moontlik uiteindelik net as ‘n bose figuur gesien moet word nie: "that Africans really should have condemned to the pit latrine of history?" (267).

Ook Mamphela Ramphele se Leadership in our time is ‘n uitstekende bydrae, nie net oor die bediening en lewe van Ndungane nie, maar ook oor die kenmerke van leierskap in ons tyd - die bediening aan die minderes onder ons, biddende refleksie, betrokkenheid by die publieke kwessies van die dag en die bou van die kerk as ‘n volhoubare funksionele instituut.

Deel 4 - Faith and the World

In die laaste deel geniet die kwessies van armoede (Ndungane, De Gruchy en Pettifor), reg en geregtigheid (Douglas) en die Millenium Development Goals (Shetty) voorrang, met ‘n afsluitende shalom visie van Ndungane self.
Ndungane vra vir "holy steadfastness" van almal wat by die skynbaar onoorkomelike probleme van die wêreld betrokke is, en teken ‘n prentjie van wat die African Monitor (en Nepad) hierin kan beteken.

Steve de Gruchy stel op sy kenmerkende indringende manier ‘n mens voor die uitdaging om armoede in al sy vorms aan te spreek in A funeral and four weddings. Die begrafnis in sy titel verwys na (die gebrek aan) ekonomiese groei in ons huidige wêreld sisteem (profeties!). "We cannot solve poverty through the same industrial economy that is destroying the earth because ... the industrial economy ... privatises the commons like air, water and land; and this always makes the life of people at the bottom of the spectrum worse - it shapes the conditions that we recognise as poverty." (334).

Die 4 huwelike in sy titel sluit aan by die omvattende werk van die Bangladesh Nobel Pryswenner Amartya Sen, en wys hoe ‘n fokus op:

1) gesond-wees ("poverty plays out in the struggle for health" [336]), 
2) opvoeding,
3) bates (hy noem 5 "kapitale": menslike, sosiale, finansiële, natuurlike en fisiese kapitaal en maak die punt: "you cannot build a community on what people don't have." [340]) en
4) voedsel "mag" (hy haal Nicoloas Berdyaev aan: "food for myself is a physical concern; but food for my neighbour is a spiritual concern." [342]) 
God se oikos, sy wêreld kan herstel.

Salil Shetty neem dié visie verder in sy artikel oor die Millenium Development Goals (MDG) van die Verenigde Nasies van 2000, veral na aanleiding van die publikasie Faith in Action: Working towards the Millenium Development Goals, waaruit die titel van Ndungane se huldeblyk ontleen is. Die mikpunt van MDG is om die volgende stel van 8 ontwikkelings doelwitte teen 2015 te bereik:

1) Eradicate extreme poverty and hunger
2) Achieve universal primary education
3) Promote gender equality and empower women
4) Reduce child mortality
5) Improve maternal health
6) Combat HIV and AIDS, malaria and other diseases
7) Ensure environmental sustainability
8) Develop a global partnership for development

Hy wys met grafieke hoe gevorder is halfpad na 2015 toe, en gee praktiese raad hoe geloofsgemeenskappe tot dié doelwitte, wat raakpunte met die Sewe Reuse van SACLA 2004 het, kan bydra.

Opsomming

Faith in Action is onontbeerlike leesstof vir enigiemand in Suidelike Afrika wat belangstel in publieke teologie, en spesifiek die wyse waarop die Anglikaanse kerk dit bedryf. Die boek se aktuele, maar ook uiteenlopende bydraes word saamgebind deur die 4 inleidings- en afsluitingsartikels van aartsbiskop Ndungane by elke deel, maar illustreer ook op ‘n manier die tese van die boek, dat daar geen neutrale grond in die publieke sfeer is. Elkeen moet deelneem met die: "particularity of their own beliefs, principles and values - and must justify those both through lifestyle and through words." (47).

Add comment