AddThis Social Bookmark Button

Mission in an African Way - ‘n baie praktiese handleiding om Afrika Geïnisieerde Kerke en hulle bediening te verstaan.  Die waarderend-kritiese benadering is nie net informatief-aktueel vanuit gevallestudies en teologiese refleksie daaroor nie, maar transformatief deur die gebruik van beide Skrifstudie en ‘n persoonlike blootstelling aan die kerke met die innoverende voorstelle vir “fieldstudies”. Die eenvoudige taal en tipografie maak die boek ekstra toeganklik en sal selfs buite sy teikenmark, Bybelskole en universiteite, die kol tref.

Mission in an African Way is die tweede in die Marturia Reeks wat deur CLF en Bybel-Media gepubliseer word (Rethinking Ministry van Dons Kritzinger was die eerste). Die reeks fokus op die kerk se missionêre bediening as deel van die Missio Dei.

Die boek se subtitel spel die inhoud uit as: “A practical introduction to African Instituted Churches and their sense of mission.” En getrou daaraan skets die boek ‘n gevarieerde prentjie van die bydraes wat African Instituted Churches (AIC’s) lewer om die Goeie Nuus binne ‘n Afrika wêreldbeeld te kontekstualiseer, inkulturaliseer en inkarneer (African Instituted Churches word ook soms genoem Indigenous, Initiated of Independent Churches).

Die boek van 228 bladsye beslaan 3 dele, 1) Mission and churches in Africa, 2) The AIC contribution to mission, 3) The wider scene, met ‘n afsluitende Bibliografie en Woordelys. Dit is geskryf deur Thomas Oduro (prinsipaal van Good News Theological College in Accra, Ghana) , Hennie Pretorius (Nehemia Bybel Instituut), Stan Nussbaum (vroeër ‘n Bybel-dosent in Lesotho en tans by GMI Instituut in Colorado Springs), en Bryan Born (direkteur van Interkulturele studies by Columbia Bybel Kollege in Abbotsford, Kanada).

Die doel met die boek is om ‘n handboek eerder as ‘n teksboek te verskaf, om pastors en evangeliste van hoofstroom kerke nie net te help om AIC’s te verstaan nie, maar om aan die hand van die 12 praktiese “field studies” eerstehandse blootstelling aan AIC’s te kry. Daarom is die taal eenvoudig gehou sodat dit beide by Bybelskole en universiteite gebruik kan word.

Die hoofstukke is almal in sewe dele opgedeel, 1) ‘n gevallestudie, 2) die AIC se bydrae aan die breë kerk, 3) ‘n opsomming van die eerste 2 punte, 4) uitdagings aan die AIC’s, 5) ‘n Bybelstudie, 6) ‘n “field study” en 7) ‘n klasgesprek.

Deel 1

In deel 1 word ‘n oorsig gegee van die impak wat AIC's in Afrika gehad het. Die groot aantal AIC denominasies in Afrika, meer as 10 000 verskillende kerke in Afrika, laat die skrywers dink dat AIC's heel moontlik ‘n vyfde kerk tipe na die Oosters-Ortodokse, Rooms-Katolieke, Reformatoriese en Pentekostalistiese kerke vorm.

AIC's word aan die hand van hulle Afrika-geïnspireerde ontstaan en hulle trinitariese en Bybelse karakter onderskei van ander kerkgroepe: "Any African founded church which believes in Jesus Christ as Saviour, the Holy Trinity ... and Christian Doctrine as founded in the Holy Bible."

Wat hulle bediening verder onderskei, is dat hulle baie erns maak met die verhouding van mense in Afrika met die onsigbare wêreld van die geeste. Die drie groot vrese in Afrika, vir voorouers, vir heksery en toordery en vir onreinheid, word direk gekonfronteer en word deur die skrywers as ‘n groot bydrae aan die kerk in die breë beskrywe. Die evangelie word dus meer realisties met die hele menslike lewe verbind as in die historiese kerke, sonder om negatief oor Afrika se kultuur te raak, wat ongelukkig baie keer die geval was met die historiese kerke. Genesingspraktyke en profesie is daarom sentrale aktiwiteite wat poog om antwoorde op alledaagse probleme te verskaf.
‘n Onderskeid word getref tussen tradisionele AIC's wat hulle leiers baie sterk verheerlik en reformerende AIC's wat steeds ‘n diep respek vir hulle stigters het, maar meer fokus op hulle missie om God aan die gemeenskap en die nasie te bring. Die AIC's as groep kerke word ook onderskei van die Nuwe Pentekostaliste (onder Amerikaanse invloed) en die Ethiopiese kerke (voorlopers van die AIC's).

‘n Vernuftige tegniek in ‘n handboek van dié soort, is die gebruik van die fiktiewe karakters Thandi en Prof. Theo wat as't ware die stem van onderskeidelik ‘n kind en ‘n geleerde word en deurentyd perspektiewe op die onderwerp gee.

Deel 2

In deel twee word in sewe hoofstuk telkens gefokus op een aspek van die AIC's, nl. 1) besondere roepingsbewustheid, 2) omgee, 3) vreugdevolle mense, 4) prediking en onderrig, 5) leierskap, 6) gawes van vroue en 7) finansies.

Van die dinge wat my daarin getref het, is die volgende:

  • Baie klem word gelê in AIC's op gebed en die openbaring van die Gees as diagnostiese instrumente om antwoorde op vrae oor siekte en ongeluk te verskaf.
  • Sommige AIC's sluit by die offerkultus van Afrika aan, en ander weer nie. Maar die redes vir die aansluiting is baie verskillend. Sommige sê daarmee dankie vir wat God doen, ander sluit weer aan by die Ou Testamentiese wette, nog ander doen dit in reaksie op voorouer opdragte.
  • Sirkel danse rondom die "Heilige Plek" word met die teenwoordigheid van die Heilige Gees verbind, maar sluit ook aan by die tradisionele godsdienste se manier van doen. Dit beteken dat mense wat tot bekering kom nie voel dat hulle ook ‘n Westerse lewenstyl moet aanleer om deel van die kerk te word nie.
  • Rituele soos "heilige water" en voetewassery speel ‘n belangrike rol en word beide aan die werk van die Gees en die voorbeelde van die Skrif gekoppel.
  • Die AIC's se kommunikasie verskil op plekke radikaal van hoofstroom kerke:
    • Stories nie stellings nie;
    • Getuienisse nie teologiese argumente nie;
    • Dansery eerder as definisies;
    • Feeste eerder as konsepte;
    • Sang eerder as dogma;
    • Gesproke eerder as geskrewe woord;
    • Genesing eerder as hermeneutiek (bron: Pobee en Ositelu se African Initiatives in Christianity, 1998).
  • In ‘n sekere sin is die hele AIC beweging gebaseer op die konsep van die profeet. Persoonlike openbarings is daarom ten minste net so belangrik as teks van die Bybel. Dit is omdat die idee van openbaring deur ‘n boek (bv. die Bybel) in elk geval vir baie Afrikane vreemd is, en teenoor dit, die idee van kommunikasie wat van ‘n ander wêreld kom, bemiddel deur geeste, van groot belang is.
  • Die bediening van AIC leiers is gebou op vier rigtinggewende beginsels: 1) ‘n bewussyn van God se roeping, 2) gespesialiseerde bedienings, 3) afhanklikheid van God en ‘n diep bewussyn van ondersteuning deur die Heilige Gees.
  • Die leierskap word gevorm deur dissipelskap, institute en korrespondensie kursusse.
  • Die sterk Roepingsverhale van die leiers van AIC's dra die boodskap oor dat God op ‘n nuwe manier in Afrika begin werk het. Dit het begin lyk asof Hy die sendelinge verbygaan en direk met ‘n paar uitgesoekte Afrikane begin werk het. Dit het verder beteken dat die bediening van die evangelie in Afrika nie meer gesien is as iets wat die Westerse sendelinge aan Afrikane oorhandig het nie, maar as die Missio Dei, die bediening van God self.
  • Vroue vorm 70% van die lidmaattal van AIC's en ervaar die AIC's as een van die belangrikste maniere om los te breek van die beperkinge van die tradisionele Afrika sisteem op pad na ‘n nuwe gemeenskap. Vroue speel ‘n belangriker rol in AIC's as selfs in Westerse kerke, alle retoriek ten spyt (Mbiti)!
  • Die storie van William Wade Harris, wat in 1909 oor ‘n tydperk van 13 maande die vrug van meer as ‘n 100 000 bekeerlinge op sy bediening in die Ivoorkus en Ghana beleef het, het dit gedoen sonder enige finansiële ondersteuning. Hy sê: "We do not pay anything for our religion" in ‘n skrywe aan sy mense, nadat hy deur die Franse verban is. Die AIC's wys onteenseglik dat Westerse geld nie altyd nodig is om Afrika te bedien nie.
  • "What the AICs have learnt is that the real mission of the church is to show those around us that God is alive and at work inside us."
Deel 3
In deel drie word op die breër konteks gefokus, hoe saamgewerk kan word met AIC's en wat hulle uitdagings tans is. Van die dinge wat my hier getref het, is die volgende:
  • Die AIC bediening word met die metafoor van die funksies van sout verbind: dit gee flavour (musiek, dans, verhoudinge); dit preserve (bewaar dit wat goed is in die Afrika kultuur en tradisies om sleg te raak); dit purify (genees dit wat siek is).
  • Die AIC's help om die "split identity" te hanteer van aan die een kant veral in die stad met die Westerse kultuur rekening te hou en steeds deel van die Afrika kultuur te wees. Hulle doen dit deur bv. ‘n nuwe "extended family" te verskaf vir mense wat hulle tradisionele huise verlaat het.
  • Samewerking is makliker met die reformerende AIC‘s, hoewel ons geroep word om almal lief te hê.
  • Die drie hoof bydraes/uitdagings van die AIC's vir/aan die breër kerk is die volgende:
    • Kontekstualisasie - AIC's slaag uitstekend om kerkwees aan te pas by die Afrika kultuur.
    • Evangelisasie - AIC's neem evangelisasie baie ernstig op, en dit word gedryf deur alle lidmate.
    • Evangelie aan die armes - AIC's bedien en preek op ‘n baie praktiese vlak oor dit wat in die werklikheid van hulle mense se lewens aangaan.
  • Die drie uitdagings vir die AIC's in Afrika is die volgende:
    • MIV en Vigs
    • Jeug en die verleiding van die wêreld
    • Nuwe Pentekostalistiese kerke - "health and wealth" evangelie veral van Amerikaanse predikers is verleidelik veral vir jonger mense.
  • Interessant - kerke in Afrika val basies in drie sosio-ekonomiese groepe:
    • Ouer Christene voel meer tuis in die hoofstroom kerke;
    • Jonger Christene voel meer tuis in die Nuwe Pentekostalistiese kerke;
    • Mense wat buite die "establishment" val, voel meer tuis in die AIC's.
Opsomming
Die skrywers gee ‘n baie praktiese handleiding om Afrika Geïnisieerde Kerke en hulle bediening te verstaan. Die waarderend-kritiese benadering is nie net informatief-aktueel vanuit gevallestudies en teologiese refleksie daaroor nie, maar transformatief deur die gebruik van beide Skrifstudie en ‘n persoonlike blootstelling aan die kerke met die innoverende voorstelle vir "fieldstudies". Die eenvoudige taal en tipografie maak die boek ekstra toeganklik en sal selfs buite sy teikenmark, Bybelskole en universiteite, die kol tref.

Add comment