|
03 Maart 2009
Posted in
Dienste -
Boeke
In When I needed a neighbour beredeneer Hennie Lötter betrokkenheid by armoede as ‘n fundamentele Christelike saak en spel veral die etiese waardes vanuit die Bybelse perspektief op armoede uit. Die boek is primêr bedoel om nie-arm Christene te oortuig tot betrokkenheid by die saak van armoede. Die oorsig van die Bybelse perspektiewe lei tot ‘n verantwoorde Bybelse etiek begrond in die deernis van God.
Die boek met die subtitel Christians and the challenge of poverty is uitgegee deur Lux Verbi.BM. Dit beslaan 238 bladsye en is gebaseer op navorsing wat Hennie Lötter onderneem het onder leiding van prof Etienne de Villiers.
Hennie skryf die boek as ‘n politieke filosoof (dosent by Johannesburg Universiteit) en poog om betrokkenheid by armoede as ‘n fundamentele Christelike saak te beredeneer en veral die etiese waardes vanuit die Bybelse perspektief op armoede uit te spel.
Die boek is primêr bedoel om nie-arm Christene te oortuig tot betrokkenheid by die saak van armoede, veral uit die basisteks Lukas 10:25-37, die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan.
Die inhoud is opgedeel in 4 dele wat 1) die realiteit van armoede beskryf, 2) die Ou en 3) die Nuwe Testament perspektiewe op armoede en rykdom belig en 4) ‘n Bybelse etiek vir vandag voorlê.
Deel 1 - The Reality of Poverty
Hennie wy uit oor die ontmenslikende effek van armoede in terme van die skending van individuele menslike waardigheid, die skade aan individuele lewens, mense se liggame en geestelike gesond-wees, die skade aan mense se familie en interpersoonlike verhoudings, die negatiewe impak op kinderopvoeding en belemmerde ontwikkeling wat weerloosheid verhoog en werkloosheid bevorder en morele waardes bedreig. Van die interessante gegewens in hierdie deel:
- 56 persent van die wêreldbevolking is hieraan blootgestel.
- Armoede lê op twee vlakke: absolute armoede (ekonomiese kapasiteit) en relatiewe armoede (volgens menslike standaarde).
- Belemmerde ontwikkeling kom onder ander uit sosiale ongeletterdheid (die onvermoë om inligting te bekom hoe jou gemeenskap werk).
- Armoede en rykdom is integraal aan mekaar verbind waar armoede ‘n negatiewe begrip is en rykdom ‘n positiewe een.
Hy sluit dié deel af met 9 uitdagings aan Christene, waarop hy in deel vier ‘n etiese antwoord gee:
1. Armoede is ‘n saak van lewe en dood.
2. Armoede ondermyn die menslike waardigheid van mense.
3. Armoede beteken publieke vernedering vir arm mense.
4. Armoede veroorsaak of vererger slegte verhoudings.
5. Armoede lei tot verspilde menslike potensiaal.
6. Armoede beteken ‘n groter las en verminderde kwaliteit lewe vir baie mense.
7. Armoede wys mense se onmenslikheid teenoor mekaar.
8. Armoede konfronteer ons met die wydverspreide verantwoordelikheid vir omstandighede van onreg.
9. Armoede lei baie keer tot verminderde en vermorste menslike en natuurlike hulpbronne en arm mense bly baie keer in sulke plekke.
Deel 2 - Poverty and riches in the Old Testament
Die Ou Testamentiese perspektief op armoede en rykdom word ondersoek in die Pentateug, die profete, die wysheidsliteratuur en die Psalms en historiese geskrifte. In die breë wys Hennie hoe die basis vir ‘n armoede-rykdom etiek in die Pentateug neergelê word (begrond in God se sorg), wat in die profete as appèl teen die volk gebruik word (veral Amos met sy sosiale kritiek), daarby in die wysheidsliteratuur tot normatiewe uitsprake lei (‘n soort proto-sosiale wetenskap) met ‘n paar beskrywings van die ervarings van armoede-en-rykdom in die Psalms en historiese geskrifte (Rut).
Die volgende temas domineer die Ou Testament perspektief op armoede en rykdom:
1. God moet die eerste prioriteit wees - etiek en aanbidding is interafhanklik (Amos, Jesaja, Sagaria en Miga) - alle waardes wat met armoede handel vloei uit die eis dat Israel God moet lief hê as die enigste Here - God se beloftes van voorspoed is verbind aan gehoorsaamheid.
2. Arm mense moet menslik hanteer word - oneerlikheid en partydigheid is taboe (Deut 16:18-20).
3. Alle nie-arm gelowiges moet arm mense milddadig en onselfsugtig help (Eks 22:22-24; Deut 14:22-29; 15:7-11; 16:9-17; 24:17; Lev 25:36-7).
4. Twee soorte hulp word geteken: nood-armoede verligting en bemagtiging-armoede verligting (Rut).
5. Skerp ongelykhede tussen ryk en arm is heeltemal onaanvaarbaar.
6. Ou Testament oordele oor rykdom en armoede is altyd situasie spesifiek en nie universeel toepaslik op alle moontlike kontekste nie.
7. Armoede is nie ‘n geïdealiseerde toestand nie - Spreuke spel armoede veral as die gevolg van luiheid uit, en net twee keer as verbind aan onreg en buitengewone omstandighede - desnieteenstaande moet arme mense met deernis en vrygewigheid hanteer word (Spr 11:25; 22:9).
8. Die onsekerheid van rykdom word duidelik uitgespel (Prediker).
9. God het bedoel dat lewe ryk in verhoudinge met Homself, ander mense en die skepping sal wees, ryk in voorspoed, gesond-wees en betekenis.
Deel 3 - Poverty and Riches in the New Testament
Die Nuwe Testamentiese perspektief op armoede en rykdom word veral uit die evangelies belig.
Die prioriteit van vertroue en geloof in God vorm vir hom die tema van sy eerste hoofperspektief, wat hy belig met:
- die storie van die ryk man waar rykdom as ‘n struikelblok vir saligheid beskrywe word, hoewel Hennie dink dat die radikale oproep tot die verkoop van alle besittings meer vir effek gedoen is, as om in alle kontekste na te volg;
- die gelykenis van die ryk dwaas wat die uiteindelike waardeloosheid van rykdom uitspel;
- die storie van Saggeüs wat ‘n positiewe beeld van ryk gelowiges skets;
- verskeie uitsprake van Jesus oor vertroue in God.
Hennie verwys ook na Paulus se oproep tot tevredenheid met wat jy het geëggo in sy pastorale oproep in 1 Timoteus (6:3-11). Hy vermeld ook Jakobus se oproep tot faith in action.
Die tweede perspektief is die kontras tussen ryk en arm wat belig word in die Lukaanse bergrede, die verhaal van die ryk man en Lasarus, die onderskeid tussen ryk en arm in Jakobus en die storie van die arm weduwee (Luk 21:1-4). Hennie wys uit dat God na die hart kyk (Luk 21), verwag dat daar iets spesiaals vir arm mense gedoen word (Luk 14) wat hom by die punt uitbring (Jak 5:1-6) dat "the condemned rich are those who live alongside the poor but do not care for them at all." (145)
Sy derde perspektief handel oor die wyse waarop arm mense gehelp moet word, waarin die gelykenis van die skape en die bokke in Matteus 25 die basisteks vorm. "I doubt whether there are many texts in the Bible with a stronger message about the obligation to engage in emergency poverty relief than this one." (155)! Dié hulp moet egter nie aan die groot klok gehang word nie (Matt 6).
Hy sluit dié deel af met ‘n bespreking van die onderlinge hulp tussen gemeentes, soos veral blyk uit Paulus se bediening (bv. 2 Kor 8-9), en ‘n laaste paar opmerkings oor die metaforiese gebruik van armoede (negatief) en rykdom (positief), waarin hy beklemtoon dat armoede nooit verheerlik word nie.
Hy som dié perspektiewe as volg op:
1. God moet die eerste prioriteit wees vir arm en ryk mense.
2. Sterk normatiewe uitsprake word oor rykdom uitgespreek - rykdom kan mense korrupteer; armoede kan jou vertroue in gevaar stel.
3. Die Nuwe Testament bevestig die Ou Testamentiese idees oor die morele verpligting van gelowiges om arm mense te help.
4. Die Nuwe Testament ken dieselfde twee soorte hulp van die Out Testament: nood-armoede verligting en bemagtiging-armoede verligting.
5. Die Nuwe Testament praat altyd oor rykdom en armoede binne ‘n spesifieke konteks waar ryk en arm saamleef in dieselfde gemeenskap.
6. Die Nuwe Testament oordeel skerp oor uitbuiting en vind dit totaal onaanvaarbaar.
7. God oordeel nie oor mense in terme van wat aanvaarbaar in menslike gemeenskappe is nie - bv. die verhaal van die arm weduwee en die aanmoediging van die hou van feeste vir armes.
8. Die Nuwe Testament gebruik steeds armoede en rykdom metafories as beskrywend van negatiewe en positiewe toestande, hoewel armoede nie verheerlik word nie.
Deel 4 - The Bible, Christians and Poverty Today
In hierdie deel begin Hennie ‘n Bybelse etiek formuleer vir die kerk, breër gemeenskap en mede-wetenskaplikes.
Hy beantwoord die 9 uitdagings van die eerste deel met die volgende 7 etiese uitsprake:
1. Die Bybel teken nie ‘n geïdealiseerde prentjie van armoede of rykdom nie.
2. God behoort die eerste prioriteit vir gelowiges te wees.
3. God gee regtig om vir die weerlose, swak en gemarginaliseerde mense in die gemeenskap.
4. Nie-arm mense se sorg vir dié mense moet meer effektief raak - beide in nood-armoede verligting en bemagtiging-armoede verligting.
5. Arm mense moet ook menslik hanteer word deur nie-arm mense.
6. Mense wat armoede veroorsaak word skerp veroordeel.
7. Armoede word nêrens verheerlik as ‘n geïdealiseerde lewe nie.
Hy spel ook die bydrae wat ‘n Bybelse etiek van armoede en rykdom aan 6 kategorieë van reg/onreg kan lewer:
1. Herkening van die menslikheid van medemense
2. Interpersoonlike interaksie en samewerking
3. ‘n Meer gelyke verdeling van goedere
4. Bemagtiging
5. Transformasie (Rut en Saggeüs)
6. Vergelding (ek dink die konsep van restorative eerder as retribution sou beter hier pas)
Die krag van só ‘n Bybelse etiek lê in:
- ‘n Sterk stel morele waardes
- die verbintenis aan religieuse waardes
- die aanmoediging en vermanings van God se beloftes
- ‘n verbintenis aan God.
Dit is moontlik omdat daar meer ooreenkomste in dié etiese waardes met ons kontemporêre wêreld is as verskille, en dieselfde armoede en rykdom kwessies van die Bybelse tyd steeds vandag relevant is.
Hy sluit af met die buitelyne van ‘n Christelike etiek van armoede en rykdom, wat deur Christene beide as burgers van ‘n land, en as gelowiges kan nastreef:
1. Armoede is ‘n komplekse fenomeen wat die lewe baie moeilik maak vir sommige mense.
2. Christene moet met die regte prioriteite lewe
3. Gelyke menswaardigheid moet bevestig word, soos onder ander in liberaal-demokratiese regte beliggaam word.
8. Die waardes om arm mense te help word in die karakter van God gevind, beide wanneer nood-armoede en bemagtiging-armoede kwessies aangespreek word.
4. Skerp ongelykhede word verwerp.
5. Mense moet verantwoordelik gehou word.
6. Die ideale lewenstyl vir Christene is om ryk in verhoudinge te wees.
7. Die etiek is universeel toepaslik.
8. God kan mense se morele en godsdienstige waardes verander.
Só deel ons in die deernis van Christus, die diepste motivering om ‘n verskil in ander se lewens te maak.
Opsomming
When I needed a neighbour poog om betrokkenheid by armoede as ‘n fundamentele Christelike saak te beredeneer en veral die etiese waardes vanuit die Bybelse perspektief op armoede uit te spel. Die boek is primêr bedoel om nie-arm Christene te oortuig tot betrokkenheid by die saak van armoede. Die oorsig van die Bybelse perspektiewe lei tot ‘n verantwoorde Bybelse etiek begrond in die deernis van God.
| < Vorige | Volgende > |
|---|




