|
03 Maart 2009
Posted in
Dienste -
Boeke
Die skrywer gee in Jesus' resurrection in Joseph's garden ‘n outobiografiese oorsig van die verhouding tussen mite, opstanding en kanonvorming vanuit ‘n post-moderne hoek. Sy hermeneuties-historiese evaluering van die 2 meta-narratiewe grondliggend aan die boodskap van die Bybel, die heilsgeskiedenis en die kerugmatiese tradisie, bring hom by ‘n keuse vir die kerugma. Dit beteken vir hom dat die verhale oor die opstanding gefabriseer is om by die boodskap te pas, en daarmee dekonstrueer hy die historisiteit van die Christus verhaal grondiglik. Hoewl 'n baie eerlike boek, verdwyn in die proses egter enige sweem van die transendente, en word ‘n mens uiteindelik net met ‘n geslote wêreldbeeld gelaat, waarin vir die verwondering oor God se werklike teenwoordigheid in die opgestane Here Jesus geen plek is nie.
Die boek van 207 bladsye is uitgegee deur Protea Book House. Dit fokus op ‘n "postmodern revisit" van Jesus se opstanding, soos die subtitel dit uitspel, in reaksie teen ‘n positivistiese interpretasie van die historiese gegewens. Die opstanding is volgens Flip eerder mitiese feite wat deur Jesus se volgelinge verkondig is, omdat hulle na sy dood sy teenwoordigheid op ‘n eksistensiële manier ervaar het.
Hy skryf vanuit ‘n outobiografiese lees van die teks, waar die fokus val op hoe die teks homself tref: "seeks not the implied reader as much as the impaled reader" (12). Die boek reflekteer daarom sy eie subjektiwiteit.
Die vraag na die verhouding tussen opstanding, mite en kanon struktureer sy hermeneuties-historiese ondersoek.
In ‘n eerste hoofstuk konsentreer hy op ‘n diskoers met Wrede, Cullmann, Jeremias, Schmidt Dibelius, en Bultmann oor die meta-narratiewe (verhale oor die aard en bestemming van menswees) van heilsgeskiedenis versus die kerugmatiese tradisie, vanuit ‘n postmodernistiese paradigma. Hy kies vir die kerugmatiese meta-narratief, veral met verwysing na Dibelius (Emmaus verhaal as basis vir die kerugma) en Bultmann (verhale as "Geschichte" [eksistensieel] eerder as Historie [werklik]) met die aanhaling: "First there was the sermon!", wat as ‘n leidende motief in die boek funksioneer. Al die verhale van die "foundational myths" van die "Christ cult" is volgens Flip ontwikkel vanuit die basis van hierdie opstandingsboodskap. Mettertyd het dit gesag begin kry wat uitgemond het in die proses van kanonvorming.
In die volgende drie hoofstukke word daarom drie teorieë oor 1) mite, 2) opstanding, en 3) kanon en de-kanonisering gegee, om sy keuse te verduidelik en te ontwikkel.
‘n Teorie oor Mite
Mite is vir Flip ‘n verhaal wat, deur baie hervertellings, ‘n aanvaarde tradisie raak in ‘n gemeenskap. Dit word in byna alle kulture aangetref en is universeel van aard. Dit handel oor die basiese vrae oor die wêreld en die menslike ervaring. Die drie mees algemene tipes/kategorieë (hy gebruik die woorde kategorie en tipe uitruilbaar) is: 1) sages (historiese basis), 2) legendes (fiktief), en 3) "folk tales" (vermaaklik). Dit handel oor die kosmos, die gode, helde, en die fundering van gemeenskappe (etiologiese verhale wat verduidelik hoekom sekere plekke, persone, en feeste belangrik is vir ‘n sekere gemeenskap). Die verhaal van die opstanding val in die laaste kategorie, veral met verwysing na die Emmaus-verhaal, waar Jesus eers aan tafel, in die tafelgemeenskap herken word, wat die Skrifuitleg vroeër vir hulle betekenis laat kry.
Met verdere verwysing na Paulus se logika oor die gekruisigde Christus wat die opgestane Christus word in 1 Korintiërs 15 en Romeine 3, vind hy twee mites, die Griekse mite van die "noble death" en die Israelitiese mite van die "persecuted sage", wat grondliggend daaraan is (gebaseer op die werk van Mack).
Die Christus mite is daarom vir hom ‘n eerste eeuse weergawe van "ancient, inherited, archetypal myths present in the collective subconscious of all humankind. It is stories in the language, symbols, and metaphors of the cultures and peoples or its origin. It is language recycled." (93). Die kerk se probleem is dat dit die Christus mite probeer historiseer het, ook onder andere deur die Jesus Seminaar sedert die 80er jare van die vorige eeu.
Dit laat hom die volgende samevattende standpunt formuleer: "First, there was the proclamation! The proclamation was about the death and resurrection. The proclamation asked for narratives. The narratives were used in the cult as material for sermons. These narratives that end with the resurrection of Christ became the foundational myth for the Christ cult, for its preaching and its rituals." (95).
Hierdie waarheid, die waarheid van die kerugma is iets waarmee hy tevrede is om te lewe.
‘n Teorie oor opstanding
Sy bespreking van mite in hoofstuk 2 loop reeds sy bevindinge in hoofstuk 3 vooruit. In aansluiting by Reimarus, wie se teses nie baie aanvaarding geniet het in die 18de eeu nie, postuleer hy dat die dissipels die verhaal van die opstanding opgemaak het, om hulle godsdiens te bevorder. Die stories moes pas by die verkondiging.
Hy gebruik ‘n hermeneutiek van suspisie, en wys die verhaal van die kruisiging as baie onwaarskynlike geskiedenis af, onder andere, op voetspoor van Paterson en Van Aarde, weens 1) die gebrek aan meervoudige getuienis en 2) redaksionele invloed wat in die teks van die Bybel bespeur kan word. Die werklike opstanding van Jesus is ook nie beskrywe in enige een van die evangelies nie.
Die verskyningsverhale van Jesus wyt hy aan kollektiewe ekstatiese ervarings (131) en ‘n "altered state of consciousness" (130).
Desnieteenstaande glo hy in die opstanding. "To me, it is a metaphor with symbolic reference." (107). Maar dit is nie ‘n historiese, maar eerder funderende gebeure wat die apostoliese gesag bevestig het. Daarom het hulle mening oor watter dokumente gesagvol is en watter nie, so ‘n kragtige invloed gehad op die besluitnemers (ortodoksie) wat uiteindelik die proses van kanonisering voltooi het.
‘n Teorie oor kanonisering en dekanonisering
Uit sy standpunt oor die mitiese agtergrond van die funderingsverhale van die evangelie, spesifiek die dood, opstanding en verskyningsverhale, vloei dit logies voort dat die kanon en die kanoniseringsproses verdag gemaak word. Die kanon is vir hom agter die teksgetuienis te vinde, en is nie identies aan die kanoniese boeke van die Bybel nie. Daarom praat hy eerder van die "text of the Bible" en dink dat dit verteenwoordig word deur: "the totality of its textual witnesses, and not by one of them in particular" (173).
Slotsom
Jesus is dus vir hom ‘n mitiese figuur wat historiese wortels het, wat God se liefde aan ons bekend kom maak het. Deur die boodskap van Jesus kan elkeen ‘n mitologiese ervaring hê met God en in verhouding met Hom lewe. "Jesus is a myth to live by." (186).
Opsomming
Die skrywer gee ‘n outobiografiese oorsig van die verhouding tussen mite, opstanding en kanonvorming vanuit ‘n post-moderne hoek, waarmee hy homself ‘n party in die gesprek maak, met ‘n wye reeks geleerdes oor die afgelope 2 eeue as gespreksgenote.
Sy hermeneuties-historiese evaluering van die 2 meta-narratiewe grondliggend aan die boodskap van die Bybel, die heilsgeskiedenis en die kerugmatiese tradisie, bring hom by ‘n keuse vir die kerugma: "First there was the proclamation." Dit beteken vir hom dat die verhale oor die opstanding gefabriseer is om by die boodskap te pas, en daarmee dekonstrueer hy die historisiteit van die Christus verhaal grondiglik.
Sy standpunte oor die historiese onwaarskynlikheid van die dood en opstanding van Jesus, en uiteindelik ook die afwys van die gedagte dat die kanon beperk wou wees tot die huidige Bybel, vloei natuurlikerwys hieruit voort.
Dit is ‘n goeie blootstelling en oorsig aan die navorsing van die afgelope paar eeue en ook ‘n baie eerlike standpuntstelling. In die proses verdwyn enige sweem van die transendente egter, en word ‘n mens uiteindelik net met ‘n geslote wêreldbeeld gelaat, waarin vir die verwondering oor God se werklike teenwoordigheid in die opgestane Here Jesus geen plek is nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|




