|
03 Maart 2009
Posted in
Dienste -
Boeke
Sanet gee in My Babe‘n onverdunde kompilasie van die gedagtes van mense oor onderbroke swangerskappe. Die samestelling is oorspronklik en die onderwerp van aborsie baie aktueel. Die styl en taal is nie vir puriste nie, maar pas by die “onverdunde” doel van die boek. Die bydraes is emosioneel treffend en gee ‘n diep insae in die komplekse redes, reaksies en refleksies van mense wat met onderbroke swangerskappe te make kry. Die tipografie pas by die fragmentariese karakter van die stories, maar lees moeilik. ‘n Mens mis egter Sanet se eie gedagtes en nadenke oor die onderwerp.
Die uitgawe van Griffel Media, My Babe, in 2007 is tweetalig in Afrikaans en Engels, en bestaan uit ‘n samestelling van 87 bladsye korter en langer bydraes (ongeveer 350) uit korrespondensie wat Sanet Groenewald oor ‘n 5 jaar tydperk gevoer het met mense wat met onderbroke swangerskappe te doene gehad het.
Sy verwoord haar belangstelling daarin op die agterblad as volg: “I longed to tune in to the thoughts of those related to an interrupted pregnancy.” En die rede vir haar belangstelling verwoord sy vanuit die feit dat die baba in utero reeds onlosmaaklik verweef is met die geskiedenis van ouers, families, die gemeenskap, ja, selfs die ganse skepping.
Die uitkoms van die kontak met mense se stories, laat haar aan die een kant met dankbaarheid en respek vir dié mense om in hulle intieme leefwêrelde te kon deel. Aan die ander kant het sy bewus geword van hoe min sy weet, hoe baie sy nalaat om te doen, maar ook hoe die genade werk.
Die gedagtes van haar korrespondente word onverdund weergegee. Soos haar voorblad foto alreeds voorspel, het die stories met vrugbaarheid (eier) en breekbaarheid (glas) te make. Soos Oona skryf (bl 24): “The doctor drew something like a marble on a piece of paper and told me it was you. I could live with that. I realised too late that he had drawn a dice.”
Die bydraes is ongeorden en nie in hoofstukke of temas ingedeel nie, behalwe natuurlik die oorhoofse tema van onderbroke swangerskappe. Die verskillende bydraes word in ‘n hele aantal verskillende font tipes gedruk, wat aan die een kant bydra tot die gevoel van fragmentasie, maar aan die ander kant maak dat dit moeilik lees.
Meesal handel die bydraes oor aborsie, die redes daarvoor, die reaksies daarop en die refleksies daaroor. Twee keer word ook oor miskrame gepraat (bl 20,36) en een keer metafories oor kerklike ideologie wat abortief met mense werk (Priscilla bl 56). A.A.D preek selfs een keer vir die dooie babatjies (bl 81)!
Sanet gee egter baie min van haar eie menings en refleksies oor die onderwerp van onderbroke swangerskappe, behalwe die drie paragrawe op die agterblad. Selfs die aanhalings wat sy op die voor- en agterblad gee, verklap nie regtig hoe sy dink nie. Op die voorblad word bv. vir Michele aangehaal wat haar ervaring van aborsie as pornografies beskryf, in die wyse waarop haar familie daarby betrokke is (bl 7), maar uiteindelik lustig saamspeel daarmee. En T. beskryf haar behoefte om nie verder met slim standpunte te werk nie, maar net met haar ongebore kind te speel (bl 11).
Dieselfde teenstellende beskouinge kom voor op die agterblad. Die aanhalings van Katlego (“mould on cheese” – bl 29) kontrasteer met dié van Klara (“starflower” – bl 15), “dis my lyf” word gekontrasteer met Cynthia se beskouing dat aborsie ‘n “grave sin” is (bl 26). En die aanhaling van Renate (haar pop se naam, bl 74) verwoord ‘n verwarde kind se gryp na aborsie as ‘n uitweg om nie langer ‘n slagoffer van haar oom se “soekie-tiekie” vergrype te wees nie. Omdat menstruasie haar oom gestuit het in sy belangstelling in haar, wou sy ten alle koste die swangerskap stop om met die hervatting van menstruasie die oom se attensies vry te spring.
Maar die gevaar is groot dat ‘n mens iets in hierdie keuses inlees wat Sanet nie bedoel het nie.
Wat ‘n mens laat met ‘n groot vraag: “Waar is die redes, reaksies en refleksies van Sanet self oor die onderwerp van die boek?”
Vir ‘n kykie in die emosionele en konatiewe wêreld van mense wat aan onderbroke swangerskappe blootgestel is, is die boek egter die moeite werd. Vergelyk bv.:
- Dawn Cameron – “There is in essence nothing casual about life, is there?” (bl 3)
- Moyna C – “Ek het jou nie vergeet nie. Jy sal sien, orals in my boeke teken ek embrio’s met vlerkies.” (bl 3)
- Edita – “Ja, ons het god gespeel. En?” (bl 11)
- Elsje JH Bredenkamp – “Hoe ouer ek word, hoe dringender soek ek na ‘n plek, na die plek waar jy rus.” (bl 14)
- Catherina G Le R – “Eintlik na só ‘n ding het jy gangrene in jou gedagtes. Die ou mense het dit wondvuur genoem en dis soos dit voel om aan jou te dink.” (bl 16)
- Liszl – “Against the background of your senseless death and the horror of my own choices and actions, you keep turning towards me as if I am worthy of your shining face.” (bl 24)
- Anna A – “A baby conceived is a primal cry of joy in God. An aborted baby becomes this very emotion suppressed forever.” (bl 30)
- Ellen – “Dit maak jou net forever pregnant met die possibilities van die baby.” (bl 37)
- Dima – “How unapologetically 6 mm of you stopped my period! You grew an arm bud to wave hi! Six years later I am still struggling to wave back.” (bl 42)
- Tatum – “Every abortion also aborts the parents. And they cannot escape the awareness until the day they die.” (bl 44)
- Ansy – “No life is ever unlived, however brief its appearance in this world. It claims a place for itself and we have to touch it, however long it may take us to get there.” (bl 44)
- Benita – “Jou uitwissing ... ‘n Intro en ‘n slot sonder storie.” (bl 59)
- Bea – “Men kill to conquer, women kill to protect.” (bl 62
- J. – “The doctor told me to breathe deeply, but I struggled because it felt as if the whole world was holding its breath.” (bl 64)
- Lilla – “Following a botched suicide attempt, a chaplain asked me to imagine something in my life that I loved. Instantly I saw myself holding you and burying my face in yours. The surprises, the shock of that vision, was a turning point for me. I had never even known that I loved you! Now, whenever I am confronted with life’s labours and uncertainties, I stop and ask myself: Where is the love in this? Together you and I ‘live’, not from day to day but from revealing moment to revealing moment.” (bl 76)
- Joos (81) – “Pa se kind – Pa huil. Pa” (bl 87)
Die boek val dus eerder in die klas van ‘n digbundel of ‘n boek met aanhalings. En moet moontlik uiteindelik uit daardie hoek evalueer word.
Opsomming
Sanet gee ‘n onverdunde kompilasie van die gedagtes van mense oor onderbroke swangerskappe. Die samestelling is oorspronklik en die onderwerp van aborsie baie aktueel. Die styl en taal is nie vir puriste nie, maar pas by die “onverdunde” doel van die boek. Die bydraes is emosioneel treffend en gee ‘n diep insae in die komplekse redes, reaksies en refleksies van mense wat met onderbroke swangerskappe te make kry. Die tipografie pas by die fragmentariese karakter van die stories, maar lees moeilik. ‘n Mens mis egter Sanet se eie gedagtes en nadenke oor die onderwerp.
| < Vorige | Volgende > |
|---|




