|
03 Maart 2009
Posted in
Dienste -
Boeke
C
hristian in Public gee ‘n indringende perspektief op publieke teologie ten opsigte van veral die doelwitte, metodes en kwessies daarvan. Die sterk akademiese aard van baie van die artikels maak dit baie verantwoord. Die bydraes oor die verskillende betekenisse van die woord publiek, die navorsing oor wat politici van die kerk verwag, die ontwikkeling van ‘n body theology en die uiters belangrike bydrae oor die omgewing, is sterk kommunikatiewe bydraes wat wyd gelees behoort te word.
Christian in Public is uitgegee in 2007 deur African Sun Media in opdrag van die Beyers Naudé Sentrum onder die redaksie van Len Hansen. Dit bevat 17 artikels in 290 bladsye.
3 Aanhalings op die agterblad, geneem uit die redaksionele artikel, struktureer die boek se sentrale skopus, dat 1) indien dit waar is dat die evangelie van Jesus Christus ‘n ingeboude konfrontasie met elke mens en elke sisteem het, en 2) indien dit waar is dat elke bedienaar van die evangelie moet opstaan en uitspel wat die evangelie van almal eis (beide punte kom uit aanhalings van Beyers Naudé), 3) ons die uitdaging moet aanvaar: “learning to speak” (Keith Clements).
Daarom dat die artikels uitwy oor die Aims, Methodologies and Issues in Public Theology soos die subtitel uitspel.
In my bespreking staan ek kursories stil by 4 artikels wat myns insiens uitnemende bydraes tot die gesprek oor publieke teologie lewer.
Dirkie Smit – What does “public” mean?
Dirkie wys op voetspoor van Jürgen Habermas dat die term publiek in sy normatiewe betekenis ‘n relatiewe laat ontwikkelde konsep is. Daar was altyd ‘n meer beskrywende betekenis van die term publiek, maar in die normatiewe betekenis het dit baie spesifiek te make met drie spesifieke sfere, ekonomie, politiek en die massa-media, wat met die opkoms van die Westerse demokrasie ontwikkel het. In die meer oorspronklike beskrywende betekenis het dit te make met die hele omvang van die lewe in al sy kosmiese fasette.
Habermas se ontleding van die opkoms van ‘n normatiewe publiek, wat reeds sedert die 60er jare hieroor skrywe, bly steeds fassinerend. Met die opkoms van die handels kapitalisme in die 13de eeu is die heersende politieke en religieuse magsverhoudinge, volgens hom, toenemend ondermyn wat sedert die 16de eeu gelei het tot twee sfere van die gemeenskap, ‘n politieke en ekonomiese sisteem, wat die kapitalistiese stelsel in die Weste ondersteun het. Sedert die 17de eeu het ‘n burgerlike gemeenskap ook ontwikkel, met koerante wat aanvanklik die politieke en ekonomiese sisteme in terme van inligting en propaganda gedien het.
Laat in die 17de eeu het ‘n meer kritiese groep burgers met hulle eie opinies na vore gekom waarmee die rol van die pers na ‘n meer opvoedkundige rol geskuif het. Met die opkoms van tydskrifte het dit al hoe meer kritiese geluide teen die heersende politieke en ekonomiese magte ingesluit, waarmee vir die eerste keer van die publiek gepraat is. Daarmee het dan ook die sogenaamde middel-klas ontwikkel. Die skryfwerk en debatte van die bekende sosiale denkers van daardie tyd – Rousseau, Hegel, Marx – kan almal na hierdie ontwikkelings herlei word.
Volgens Habermas het hierdie situasie egter verander met die opkoms van die liberalisme. Waar die publiek aanvanklik die meer gesofistikeerde en opgevoede klasse was, is stemreg wyd uitgebrei en die sogenaamde publiek, onder andere ook weens ‘n beter opvoedingstelsel, verbreed. In ‘n sekere sin kan ‘n mens sê dat wat die publiek in kwantiteit gewen het, dit in kwaliteit verloor het.
Met die opkoms van die laat kapitalisme aan die einde van die 19de eeu het die sogenaamde publiek daarby sy kritiese rol toenemend verloor en al hoe meer verbruikersgeoriënteerd geword. Die wese van die publieke media het ook nog radikaal verander en al hoe meer die ideologieë van die ekonomie en die politiek begin dien, en sy kritiese rol verander in een van beïnvloeding en bemarking.
Daarom dat Habermas sy sogenaamde diskoers-etiek ontwikkel het, waarmee in die saampraat van ‘n diverse groep mense betekenisvolle norme vir die publiek en die lewe kon ontwikkel. Hiervoor was en is dit nodig om die sogenaamde ander in te sluit in die publieke gesprek.
Dirkie se kritiek teen Habermas se ontleding is dat hy met ‘n baie rasionele en idealistiese model werk (waarmee hy dan ook ware demokrasieë onderskei van valse demokrasieë: die onderskeid draai om sy verstaan van kommunikasie: verstaanbaar, korrek, waar en eg) en ‘n te negatiewe perspektief op die massa-media. Hy kon ook nie genoegsaam die effek van ontwikkelinge soos die Internet voorsien en die impak wat dit op kommunikasie sou hê nie.
Wat ‘n mens leer van Dirkie se ontleding van Habermas is dat:
- in die eerste plek natuurlik die term publiek in publieke teologie nie so oud of so vanselfsprekend is as wat sommige wou dink nie;
- in die tweede plek die onderskeid tussen die private en publieke deel van die lewe net tot op ‘n punt sin maak, omdat dit wat in die publiek gebeur altyd ‘n deurslaggewende rol in die private deel van die lewe het, en andersom;
- in die derde plek die publiek in die sin van die publieke sfeer of publieke belang juis, op voetspoor van Habermas, verstaan moet word as teenoorstaande en daarom kritiese sfere van die politiek en die ekonomie, wat ‘n publieke opinie vorm as ‘n soort kollektiewe konsensus van wat vir die meerderheid mense aanvaarbaar is;
- in die vierde plek op ‘n radikale teenoorgestelde manier die staat ook ‘n publieke rol het, in terme van opvoeding, gesondheid en infrastruktuur, en dat die dubbelsinnigheid en spanninge tussen die verskillende interpretasies van die konsep publiek nie ontken kan word nie, veral nie waar die massa-media baie keer in diens van die politiek en die ekonomie staan nie – deeglike onderskeiding is hier nodig om te weet wat gebeur, deur wie en aan wie, hoekom, hoe en met watter waardes;
- in die vyfde plek, in teenstelling met Habermas, dit nie net die rasionele en die diskoers is wat publieke opinie vorm nie, maar ook die kunste, sport, vermaak, helde, rolmodelle en in terme van die kerk, aanbidding – daarom dat Dirkie vra of ‘n teologie van “daar-wees” nie belangriker kan wees as proklamasie, en ‘n teologie van “doen” nie meer kan uitrig as dialoog in die vorming van publieke opinie nie.
Dirkie roep daarom die kerk op om rekening te hou met die onderskeid in moderne samelewings tussen vier areas:
- die staat en politiek,
- die ekonomie,
- die burgerlike gemeenskap (wat die sfere van die reg, opvoeding, arbeid, kultuur, wetenskap, sport asook organisasies en assosiasie insluit),
- en die publieke media,
en op al vier vlakke sy roeping uitleef om saam te help bepaal aan die norme wat daarin geld, terwyl die meer algemene betekenis van die evangelie vir die lewe nie vergeet sal word nie.
David Pfrimmer – What do Canadian Politicians expect of the churches?
Hierdie uitnemende bydrae het nie net betrekking op die Kanadese situasie nie, maar het ‘n universele toepassing weens die navorsings-model (kwalitatiewe navorsing in gesprekke met politici) sowel as die strategieë wat daaruit voortgespruit het.
Hy gee ‘n oorsig oor die Kanadese storie, wat interessant genoeg nie sonder die formele medewerking van die kerk tot stand sou kon kom nie. Hy wys hoe die leidende gedagtes van die kerk se rol verander het oor die afgelope 4 eeue, van ‘n fokus op die “establishment of a national identity” (1535-1914), na ‘n fokus op die kerke as “custodians of the national identity” (1914-1970s) na die huidige periode van die “disestablishment” van die kerk waarbinne die kerk toenemend die profetiese rol begin speel as die “conscience of the nation”.
Uit die gestruktureerde kwalitatiewe navorsing “What do politicians expect of the churches?”onder politici van 4 uit die 5 partye (die 5de party is oorwegend Frans en taal was ‘n probleem) het twee insigte na vore gekom:
- alle partye stem saam dat die kerke ‘n definitiewe rol het om te speel;
- kerke het min begrip vir die konflik-model van opposisie-politiek waarin debat en kontroversie ‘n belangrike rol speel in die vorming van die beste beleid en benadering.
Vier perspektiewe op die kerk het na vore gekom, waarvoor hy ook strategieë in die 6de deel van sy artikel voorstel:
- Die liberale hoofstroom politici het die kerk gesien as ‘n plek van “good individuals with good ideas.”
- Die tradisionaliste het die kerke gesien as “custodians of the moral narrative” van die gemeenskap en moes dien as raadgewers vir die regering.
- Die sosiaal-solidêre politici het die rol van die kerk gesien as ‘n “solidarity partner” wat mense/politici moes bystaan in hulle pogings om mense te bevry.
- Die gemeenskap-bewarende politici het die kerke gesien as “community builders”.
Dit lei Pfrimmer tot die gevolgtrekking dat kerke nie net weer die “public commons” moet herwin nie, maar ook in stand moet hou. Die ander akteurs – ekonomie, regering, burgerlike samelewing – moet daar ontmoet word en mee in gesprek getree word.
Hiervoor stel hy ‘n critical contextual theology voor wat die volgende vrae vra:
- Wat is die probleem? – die eksistensiële vraag
- Wat is regtig aan die gebeur in die wêreld? – die sosiaal-analitiese vraag
- Wat is God se Woord? – die teologies-etiese vraag
- Wat beteken dit vir ons? – die dissipelskap vraag
- Wat gaan ons daaraan doen? – die publieke getuienis vraag
Vir hierdie publieke getuienis is dit goed om te onthou dat politici meesal sal saamstem dat die kerk in die publieke gesprek die volgende elemente sal indra: ‘n klem op menslike waardigheid en bemagtiging, die idee van diens en roeping, en die heiligheid van die skepping. Kerke kan dus hulleself voorberei om presies dié kwessies aan te spreek.
Christina Landman – Women embodying public theology
Christina skets in dié kort artikel die noodsaak vir publieke teoloë, veral vroue teoloë, om brûe te bou tussen onder andere:
- Mense wat regte het volgens die grondwet – en mense wat daardie regte ontneem word deur hulle godsdienste;
- Mense wat die heersende dogma aanvaar – en mense wat gedemoniseer word as hulle aspekte van geloof bevraagteken, bv, die historisiteit van Jesus en die geloof van sy volgelinge,
- Mense wat een vorm van tradisionele moraliteit aanvaar – en mense wat die beste uit ‘n verskeidenheid van moraliteite internaliseer.
Sy wys hoe só ‘n brugbou aktiwiteit beskrywe kan word met die term: Embodying Public Theology wat ses aktiwiteite kan insluit:
- Om die brug tussen religieuse identiteit en menslike waardigheid te onderhandel;
- Om die spiritualiteite van die stemloses te beliggaam (vroue, mishandeldes) deur liturgieë en prediking, die regte gebruik van religieuse taal (nie-seksisties bv.) en die skep van veilige plekke;
- Om teologieë te skrywe saam met mense wat blootgestel is aan ongelykhede, hetsy fisies (bv. seksueel), simbolies (bv. ryk/arm), polities, en geestelik;
- Om die ruimtes tussen die geestelike en die sekulêre te verken;
- Om morele gemeenskappe van sorg te ontwikkel (vir gays en mense met MIV en Vigs);
- Om die verlede te genees (bv. polities en patriargaal)
Ernst Conradie – Christianity and the environment in (South) Africa: four dominant approaches
In ‘n uitstekend-verantwoorde artikel (15 bladsye teks met 7 bladsye bibliografie!) gee Ernst Conradie ‘n indringende beoordeling van vier benaderings tot een aspek van die publieke teologiese diskoers: die omgewing. Dit sluit aan by die “Conciliar process” op pad na “Justice, Peace and the Integrity of Creation” wat by Vancouver 1983 begin het. Hiermee het die wêreldkerk begin om omgewings agteruitgang as een van die drie grootste uitdagings op die sosiale agenda van die kerk te beskou, saam met ekonomiese onreg en gewelddadige konflik.
Hy wys uit hoe die MIT rapport op Limits to Growth wat by die Club of Rome in 1972 aangebied is, steeds invloedryk is om omgewings agteruitgang as ‘n funksie van bevolking(s-groei), toenemende vlakke van verbruik en die impak van tegnologie te beskryf (die formule wat gebruik word is O[mgewings agteruitgang] = B[evolking] x W[elvaart] x T[egnologiese impak]). Die Christendom word hierin ook publiek verantwoordelik gehou vir van die grondoorsake van die omgewingskrisis, veral na aanleiding van die artikel van Lyn White “The historical roots or our ecologic crisis” (1967), onder andere as gevolg van die antroposentriese aard daarvan.
Kerke in Suid-Afrika worstel steeds met ‘n blinde kol in verband met die kwessie van die omgewing wat miskien verband hou met die feit dat die slagoffers van omgewings agteruitgang tipies ook slagoffers van ekonomiese onreg is en daarom steeds op die randte van die samelewing gevind word.
Sy aanhaling van Jacklyn Cock se studies in die 90er jare is baie insiggewend, wie nie net die blinde kol uitwys nie, maar ook hoog opgee oor die feit dat die kerk ‘n rol kan speel weens 1) sy georganiseerde aard op grondvlak, 2) morele leierskap, 3) ekologiese visie wat in die hart van sy boodskap lê en 4) belangrike bronne. Sy pleit daarom, ietwat spitsvondig, vir ‘n “rainbow alliance” tussen bewaringsgesindes (groenes), geregtigheids-organisasies (bruines), arbeid-organisasies (rooies), en die religieuse groepe (perses) sodat ons op ons blou planeet kan oorleef!
Hy behandel vervolgens die vier dominante benaderings tot die omgewing en wys telkens die sterktes en uitdagings in elkeen aan:
- Natuurbewaring: die rentmeesters van hulpbronne – die klem op menslike verantwoordelikheid is baie positief, maar dit bly ‘n skerp antroposentriese beweging wie se retoriek eerder gemik is op diegene in posisies van mag en gesag en nie meer fundamenteel na die saak kyk nie.
- Die herstel van die Voorouer-land – die fokus op die lewensomstandighede van arm plattelandse gemeenskappe in Afrika is positief, met spesifiek die oproep van Eugene Wangiri (Kenia) tot ‘n urumwe spiritualiteit, die moeite werd om verder te ondersoek. Urumwe is gebaseer op die idee van harmonie en eenheid waardeur God se teenwoordigheid in die hele skepping erken word. Dit werk nie met ‘n deïstiese onderskeid tussen God en die skepping nie, wat baie keer juis uitbuiting van die omgewing moontlik maak. Die krag van dié benadering is dat dit put uit die tradisionele ekologiese wysheid vanuit ‘n Afrika konteks, hoewel die kwessie van kontinuïteit en dis-kontinuïteit ten opsigte van die Afrika tradisionele godsdienste verder ondersoek sal moet word.
- Volhoubare ontwikkeling – die soeke na ‘n ryk seën – dit is die taal van entrepreneurs, leier in die industrie en politici, soos geïllustreer in die Word Summit on Sustainable Development van Johannesburg in 2002. Die enigste manier om te vorder volgens hierdie benadering is deur ekonomiese groei, werkskepping en ontwikkeling. Hoewel die Christelike literatuur nie baie duidelike steun hieraan verleen nie, kan die effek hiervan tog gesien word in veral Pentekostalistiese en sommige Afrika Onafhanklike Kerklike kringe wat werk met ‘n voorspoedsteologie. Dit legitimeer die lewe van die rykes, hou die belofte in van oorlewing en ‘n bietjie voorspoed vir die armes.
- Die Soeke na omgewingsregte – dit handel oor die werk en leef omstandighede van veral stedelike armes en daag die misbruik van mag uit. Hoewel kern Christelike temas hierin aangeraak word, is daar ‘n tendens tot etiese reduksionisme, waar die Christelike godsdiens beperk word tot sy morele visie. Dit vertoon ook steeds ‘n tipiese antroposentriese logika wat net moontlik ‘n besorgdheid oor die nie-menslike omgewing sal uitspreek.
Ernst se gevolgtrekking kan saamgevat word met: “Another world is possible”. Die idee van “sustainable community” eerder as “sustainable development” kan help om ‘n ander perspektief op die omgewings agteruitgang te gee. Die krag van hierdie idee word baie keer gesoek in die oikos metafoor, die idee van die hele huishouding van God. Dit verenig drie ekumeniese temas: ekonomie, ekologie en ekumene waarvan etimologies gesproke oikos telkens die eerste stam van die woord is, en verbind word met die reg (nomos), die volhoubare beginsels (logos) en die gemeenskap (mene).
Nog dieper word dié hele diskoers gefundeer in die slotparagraaf in die hele werk van God (skepping, voorsiening, verlossing, voleinding), wat tradisioneel beskryf is as die ekonomie van die Drie-enige God, die sogenaamde oikonomia tou theou.
Ander bydraes
Werner Wolbert (Religious Voices in public spaces) en Clive Pearton (Speaking of God ... Ballyhooing in public) skryf oor die kritiese geluide wat vanuit die publieke sfeer (John Rawls en Robert Audi) gemaak word op kerke se rol en betrokkenheid ipso facto, en oor die dubbelsinnige posisie van die Christelike geloof in Australië. Die reg om te praat moet verdien word, sê Clive.
Max Stackhouse (Civil religion, political theology, and public theology – what’s the difference?) en Len Hansen (A “private side” to public Theology? Mysticism revisited) skryf onderskeidelik oor die normatiewe openbaringskarakter van ‘n publieke teologie en die herwaardering van die lang mistiese tradisie (onder ander met verwysing na Bernard McGinne en Kees Waaijman) in die Christendom: “Politics begins in mysticism, and mysticism always ends in politics” (Charles Pégue). Die aansluiting by David Tracy se siening dat alle teologie ‘n publieke gesprek is, is baie verhelderend, ook die onderskeid tussen die 3 primêre publiek sfere van ‘n publieke teologie: 1) die akademie (fundamentele teoloë), 2) die kerk (dogmatiese teoloë), 3) en die wyer gemeenskap (praktiese teoloë).
Die werk van drie publieke teoloë word beskou deur onderskeidelik:
- Rodney Tshaka (BARTH – The Christians as the Christ in Society – wat weens sy misnoeë met liberale teologie homself in ‘n Bybelse teologie gevind het wat telkens ook in die praktyk van die politiek sy rol moes speel ter wille van integriteit),
- Frits de Lange (BONHOEFFER – Against escapism – sy teologie was publiek weens die egte en praktiese aard daarvan en die dialogiese proses ingebed daarin, en die feit dat hy van gelowiges gevra het om in die wêreld, as een globale realiteit, te lewe) en
- Clint le Bruyns (TILLICH – Theonomous culture – die teoloog “of the boundaries” wat baie gemaak het van die idee van die impak van die Gees op kultuur wat per se publiek was).
James Cochrane skryf oor die Christian Institute (Damned if you do, damned if you don’t – rereading the public theology of the Christian Institute for the contemporary practitioner) en wys hoe dit tot stand gekom het as gevolg van 12 teoloë (Albert Geyser het die navorsing gedoen) se “rereading of a normative text”, en die gevolglike bevraagtekening van die ras-politiek van die 50er jare van die vorige eeu. Die werk van die Instituut daag ons steeds vandag uit: 1) om die publieke sfeer te herwin, 2) die publieke leuens te ontbloot en 3) die globale politiese-ekonomie aan te vat in hulle eties-bedenklike skuif van te werk met regtige mense na te werk met virtuele gemeenskappe (aandeelhouers wat eintlik ‘n abstrakte begrip op papier is).
Pieter Coertzen skryf oor die verhouding kerk en staat vanuit ‘n koninkryksperspektief en wys op voetspoor van Hiemstra dat die kerk naas die staat deel is van: “a plurality (a multiplicity, a diversity) of complementary, overlapping and mutually interdependent institutions and associations which are all rooted in God’s creation.” Beide die Konstantynse model (politiek domineer die godsdiens) as die teokratiese model (godsdiens domineer die politiek) moet afgewys word (wat interessante implikasies het vir die wyse waarop na die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36 gekyk word) met ‘n beginsel-georiënteerde erkenning van die institusionele pluraliteit in die gemeenskap waar komplimentêr saamgewerk word, eerder as in opstand of in onderdanigheid gereageer word. Dit hou dus op ‘n praktiese vlak in dat die verantwoordelikheid vir die publieke lewe komplementêr aanvaar word, dat rekening gehou moet word met die meervoudigheid van die rigtings waarin beweeg word en dat die konteks telkens in ag geneem word.
Miranda Pillay skryf oor gender ongelykheid in die konteks van MIV en Vigs in Suid-Afrika, en maak die punt dat deur gender ongelykheid aan te spreek, die kerk sy pro-aktiewe respons op die pandemie kan versterk.
Ulrich Duchrow skryf oor die noodsaaklike konfrontasie van die Neo-liberale kapitalisme in terme van ekonomiese geregtigheid en ekonomiese globalisasie, omdat dit toenemend die wêreld in wenners en verloorders verdeel en die wêreld se “life-support systems” in gevaar stel.
Dirkie Smit en Nico Koopman skryf oor die impak wat ‘n gesprek oor menseregte en menswaardigheid as ‘n publieke getuienis op die ekonomie kan hê, soos onder ander beliggaam in die verklaring van Barmen en die belydenis van Belhar. Almal moet opgeroep word: om ‘n “commitment to support human dignity as guiding principle for life together” (278) te wys.
Nico Koopman sluit die boek af met ‘n oorsig van die afgelope 5 jaar se werk by die Beyers Naudé centre for public theology. Hy wys hoe hierdie breinkind van Prof Russel Botman gefokus het op dieselfde drie publics wat Tracy geïdentifiseer het: 1) akademie, 2) gemeenskap en 3) die kerk.
In terme van die gemeenskap spel hy uit dat ‘n publieke teologie rekening moet hou met 4 sfere: 1) politiek, 2) ekonomie, 3) burgerlike samelewing, 4) publieke opinie.
In die kerk self moet ‘n publieke teologie rekening hou met 2 sfere: 1) die organisatories kant (eredienste, gemeentes, denominasies, ekumene) en 2) die organismiese kant (individue en vrywillige organisasies).
Sewe temas het hulle programme gedomineer: 1) geloof en sosiale identiteit, 2) menswaardigheid en menseregte, 3) gemeentes en publieke lewe, 4) regverdige vredebou-aksies, 5) globalisasie en geregtigheid, 6) morele vorming in die publieke lewe, 7) burgerlike samelewing en publieke opinie.
Opsomming
Die boek gee ‘n indringende perspektief op publieke teologie ten opsigte van veral die doelwitte, metodes en kwessies daarvan. Die sterk akademiese aard van baie van die artikels maak dit verantwoord, maar daarom minder toeganklik vir die publiek. Die bydraes oor die verskillende betekenisse van die woord publiek, die navorsing oor wat politici van die kerk verwag, die ontwikkeling van ‘n body theology en die uiters belangrike bydrae oor die omgewing, is egter sterk kommunikatiewe bydraes wat wyd gelees behoort te word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|




