|
03 Maart 2009
Posted in
Dienste -
Boeke
I
cons as a means of grace is ‘n herwaardering van die belang van ikone vir Christene uit die Reformasie. Dit gee ‘n uitstekende inleiding oor die betekenis en impak van ikone deur die eeue, en belig veral die wyse waarop dit met die ekumeniese Geloofsbelydenis van Nicea verbind kan word en die storie van die Christelike geloof op ‘n beeldryke manier vertel. Die idee dat ikone ‘n “means of grace” is vir dié wat glo dat hulle dit kan wees, word begrond in die simboliese, sakramentele en teologiese karakter daarvan. Saam met die 16 kleurplate maak dit ‘n wêreld oop vir Protestantse Christene, wat, of jy met hom saamstem of nie, ‘n fassinerende kykie gee in en herwaardering van veral die Ortodokse, Koptiese en Ethiopiese kerke se geloofspraktyke.
Icons as a means of grace is uitgegee deur Lux Verbi.BM in 2008. Op die agterblad word die invalshoek tot die onderwerp in ‘n subtitel gegee: A Reformed Appreciation. Dit is geskryf deur bekende skrywer John de Gruchy en beslaan 143 bladsye met ‘n uitgesoekte bibliografie en 16 kleurplate van ikone versprei deur die boek.
John deel die boek op in drie dele: 1) ‘n Inleiding en oorsig oor die onderwerp waar hy poog om die groeiende belangstelling in ikone begrond in die kontemporêre belangstelling in spiritualiteit, 2) ‘n oorsig deur die geskiedenis van die ontwikkeling en belang van ikone, en 3) die wyse waarop die ikone die Geloofsbelydenis van Nicea verbeeld en die storie van die Christelike geloof vertel.
Teenoor die Gereformeerde verwerping van ikone het John se reis hom tot ‘n nuwe waardering van hulle betekenis gebring. Hy is oortuig dat ikone ‘n “means of grace” is vir dié wat glo dat hulle dit kan wees – en dat die teenoorgestelde oortuiging ook waar is (10).
Deel 1 – Preparing the Ground
Die Griekse woord eikon wat in die Nuwe Testament gebruik word, beteken beeld of prentjie en kan gekontrasteer word met skia wat beteken skaduwee. Ikone is daarom per definisie iets wat die lewe vier en nie die teendeel daarvan nie.
Die grens tussen ikone en idole (afgode) is moeilik bepaalbaar. Een manier om dit te verstaan, is om outentieke ikone te sien as simbolies, wat dinge by mekaar en in verhouding bring, teenoor idole wat diabolies is, wat verlei en verdeel (20).
Om die onderskeid verder uit te spel, beskryf John Idolatrie (afgodery) as primêr gemik op valse voorstellings van God en nie soseer gemik op die objekte wat uit hout of metaal gemaak, of geverf word op mure of op hout nie.
In die Ortodokse geloof daarenteen vorm ikone ‘n integrale deel van hulle geloof en geloofspraktyke, in wese deur hemel en aarde met mekaar te verbind, ‘n sigbare teken van ‘n onsigbare werklikheid, soos veral met die Ikonostasis die geval is (dit is die skerm wat die gemeente van die altaar skei en uitbeeldings van die patriarge, die profete, die feeste en ander Christelike simbole bevat wat as ‘n venster op die komende wêreld beskryf word in hfst. 10). Die inhoud daarvan word met dogmaties korrekte (Niceense) beskrywings van geloof gevul.
Binne ‘n sakramentele verstaan van die wêreld en veral hoe die kerk daarin optree, soos kenmerkend is van die Ortodokse kerk, word ikone beskou as sakramenteel in die appèl op die visuele sintuie en nie net die gehoor- (verkondiging), smaak- (nagmaal) en tassintuig (doop) nie. Soos John van Damaskus gesê het: “What the book is to the literate … the image is to the illiterate.” (37) Ikone is daarom vir die Ortodokses ‘n genademiddel, en soos enige sakrament word die band tussen ikone en die Woord as fundamenteel beskou, die sigbare wat met die onsigbare verbind word.
Interessant vir my was die groot klem op die spiritualiteit van die ikoon-skrywer, omdat geglo word dat die ikoon nie net iets van die hemelse werklikheid oordra nie, maar ook iets van die ikoon-skrywer. Isobel de Gruchy, John se vrou, wat die vierde hoofstuk geskryf het as ikoon-skrywer, maak baie van die verhouding wat tussen haar as kunstenaar met die vorming van die ikoon ontstaan.
Anders as wat baie Protestante glo, is die ikone nie in die Ortodokse geloof gebruik om voor te bid nie, “rather we pray with them”(46). Die ervaring kom van die kenmerkende gevoel dat dit nie net jy is wat na die ikoon lees nie, maar dat die ikoon ook vir jou lees: “it can be an eerie experience” (47). Die betekenis daarvan is dat ikone nie net kunsobjekte vir evaluasie is nie, maar beelde wat jou uitnooi om genade te ervaar.
In die lees van die ikone val die volgende ‘n mens op: daar is ‘n omgekeerde perspektief – minder belangrike figure word kleiner geteken rondom die sentrale groot figuur; alles in die ikoon is gerangskik om die hoof verwysingspunt; daar is min skaduwees; daar is ‘n “striking luminosity” weens die baie lae verf (eier tempera), soms tot 20; Christus het altyd ‘n rooi tuniek aan (sy menslikheid), en ‘n oorkleed in blou (sy goddelikheid); Maria het die blou en rooi in omgekeerde volgorde aan, ‘n blou rok en ‘n rooi oorkleed; groen simboliseer die aarde en word in ikone van bv. Johannes die Doper gebruik; bruin word ook vir die aarde gebruik sowel as vir armoede; pers weer vir mag; wit en goud, soos onder andere in die bekende halos, word gebruik vir die “uncreated divine light and glory of God”. Hierdie lig is baie betekenisvol en verbeeld God se ewigheid en openbaarmaking (soos bv. te sien is in die Transfigurasie – hoofstuk 15).
Ten slotte: Ikone is wesenlik teologies in karakter, ook ‘n manier om teologie te doen. Die regte geloof, of te wel Ortodoksie, gaan hand in hand met ‘n Ortodokse perspektief.
Deel 2 – Telling the story
In hierdie afdeling gee John ‘n oorsig van die gebruik en perspektiewe op ikone deur die eeue, veral die konflik tussen ikonoklaste (“the breakers of images”) en die ikonofiele (“lovers of icons”). Hy beskryf onder andere die intense tydperk van die Ikonoklastiese Kontroversie van 726-843, die standvastige gebruik van die ikone in die Bisantynse, Koptiese en Ethiopiese tradisies, hoewel die uitbeeldings onderling verskil in tegnieke en temas.
Vir die Protestantse oor is hoofstuk 11 belangrik, waar John skryf oor die perspektiewe in die Westerse kerk, en meer spesifiek in die Reformasie, op woorde en uitbeeldings (images).
Luther was glad nie ‘n ikonoklas nie, maar ook nie ‘n liefhebber van die visuele kunste nie. Hy was tevrede met ‘n kruis en ander altaarstukke wat die lyding en ander temas van die verlossing uitgebeeld het. Kuns was vir hom ‘n hulpmiddel, ‘n sekondêre onderrigmiddel wat die evangelie moes dien. Die Woord, en nie uitbeeldings nie, het egter primêr belangrik vir hom gebly.
Calvyn daarenteen het teen beeld en ikone uitgevaar as perverse fiktiewe aanbidding wat eerder bygeloof gestimuleer het as genade. Hy het geleer dat dit juis mense van die ware kennis van God in Jesus Christus weggehou het, eerder as dit aangewakker het. Hy het wel later ‘n meer positiewe plek aan die kunste per se gegee, maar altyd die sekondêre karakter daarvan beklemtoon.
John wys dan die interessante ontwikkeling in kuns in die Weste, wat baie op die patroon van die individualistiese uitbeelding van die kunstenaar se eie interpretasie, hetsy romanties of impressionisties, ontwikkel het, terwyl in die Ortodoksie die inkonografie trou gebly het aan die geestelike karakter van hulle dogma.
John se standpunt begin hier vorm aanneem, dat terwyl ‘n mens die erfenis van die Reformasie waardeer en respekteer, die waarde van ander tradisies as ons eie, tog wel met vrug ondersoek kan word.
Deel 3 – Imaging the creed
In dié deel verbind John die ikone aan sleutel temas in die Geloofsbelydenis van Nicea, Skepping (die Vader), Inkarnasie (Jesus se geboorte en lewe), Maria as Theotokos (Moeder van God), Kenosis (Jesus se lyding), Anastasis (Jesus se opstanding), Pantokrator (Jesus se Hemelvaart), Pinkster (die Heilige Gees), Koinonia (gemeenskap van die heiliges) met een byvoeging die Transfigurasie (Verheerliking) van Jesus op die berg.
Van die dinge wat my hier getref het, was die volgende:
- Interessant is dat daar geen ikoon is wat God uitbeeld as Skepper van die wêreld, die eerste belydenis van Nicea nie. Die rede is dat die wêreld as God se ikoon verstaan word, en die mens as die hoof ikoon (mens as beeld van God – Gen 1) daarin. Om daarvan ‘n afbeelding te maak, sou idolatrie wees.
- Om Jesus uit te beeld is daarenteen geen probleem in die ikonografie nie, want Hy is juis die toppunt van die inkarnasie, God wat sigbaar geword het, God wat mens geword het, aan wie gevat kon word en met wie ‘n maaltyd saam geëet kon word. Ironies genoeg, is daar in die Protestantse tradisie baie uitbeeldings van Jesus, bv. as die Goeie Herder, maar almal verbeeldingsvlugte van die kunstenaar se verbeelding, terwyl die ikone van Jesus almal volgens baie spesifieke dogmatiese voorskrifte uitgebeeld word.
- John wys ook daarop dat die ikone, in terme van die Inkarnasie, juis as ‘n teenvoeter beskou word vir idolatrie, deur aan te dring daarop dat die enigste ware prent van God, dié van Jesus is, die gekruisigde, opgestane, verheerlikte en opgevare Here.
- Maria, as die Theotokos, die Moeder van God, word uitgebeeld in die ikonografie om Jesus se menslikheid te beklemtoon, teenoor die Docetistiese dwaling.
Ek sluit af met ‘n aanhaling van John reg aan die einde van die boek, wat sy standpunt opsom:
“If our contemplation of icons helps us become more truly human in the image of Christ, and therefore more compassionate towards others and more committed to the well-being of the world, then icons have become, for us, a means of grace.” (141).
Opsomming
Icons as a means of grace is ‘n herwaardering van die belang van ikone vir Christene uit die Reformasie. Dit gee ‘n uitstekende inleiding oor die betekenis en impak van ikone deur die eeue, en belig veral die wyse waarop dit met die ekumeniese Geloofsbelydenis van Nicea verbind kan word en die storie van die Christelike geloof op ‘n beeldryke manier vertel.
Die idee dat ikone ‘n “means of grace” is vir dié wat glo dat hulle dit kan wees, word begrond in die simboliese, sakramentele en teologiese karakter daarvan. Saam met die 16 kleurplate maak dit ‘n wêreld oop vir Protestantse Christene, wat, of jy met hom saamstem of nie, ‘n fassinerende kykie gee in en herwaardering van veral die Ortodokse, Koptiese en Ethiopiese kerke se geloofspraktyke.
| < Vorige | Volgende > |
|---|




