AddThis Social Bookmark Button

Ek dink in die laaste tyd baie oor die invloed van Jesus Christus in hierdie wêreld.

Ek is geneig om, gegewe 'n meer piëtistiese agtergrond in my kinderjare, merendeels vanuit 'n persoonlike verhoudig met Jesus te dink oor sy invloed.  En dié invloed is baie keer, in my ervaring, direk verbind aan my persoonlike geestelike gewoontes en/of dissiplines.  Soos Johannes 15 sê, "Julle moet in My bly en Ek in julle".  As daardie ruimte vir God nie daagliks opnuut geskep word in my lewe nie, ervaar ek sy invloed minder en gelukkig natuurlik ook andersom!

Gevolglik in my geestelike begeleiding is dit een van die aspekte wat ek in 'n gesprek met mense heel eerste sal ontgin: watter ruimte is daar vir God in jou lewe?  Want dit is een van die primêre bevindings van die navorsing oor Geestelike Groei (Willow Creek) dat mense groei deur gereelde geestelike praktyke (en stagneer weens die gebrek daaraan).

Maar nou, is dié verstaan, uit 'n heel verrassende hoek, bevestig, maar ook eksponensieël uitgebrei, met my lees van Andrew Walls se boek  the Cross-cultural Process in Christian History.

Drievoudige toets vir Christus se invloed

Hy skryf oor die impak van Christus in hierdie wêreld.  En hy gebruik Latourette (A History of the Expansion of Christianity, Vol 1, 1937) se drievoudige toets om die invloed van Christus op die uitbreiding van die evangelie te bepaal:

1.       Die Kerk toets - die uitbreiding van die Christelike belydenis in ‘n spesifieke area (gemeentes);

2.       Die Koninkryk toets - die getal en krag van nuwe bewegings wat hulle oorsprong in Christus het (bv. sendingbewegings);

3.       Die Evangelie toets - the effek van die Christelike evangelie op die mensdom as ‘n geheel (bv. die verhaal van die Maori's).

En wat my tref, is dat die Kerk toets spesifiek met gemeentes te make het, en nie soseer individue nie!  Dit sien ‘n mens natuurlik al reeds onder andere in die NT, deurdat die meeste van die bekerings waarvan vertel word in die NT in groepe plaasvind.  En waar individue tot geloof kom, het dit in elk geval altyd 'n impak op 'n hele gemeenskap: Ethiopiese amptenaar op Afrika (Hand 8) en Paulus op die wêreld (Hand 9-28)!

Gemeentes is die eerste teken van Christus se invloed

Walls wys dan uit hoe Jesus se invloed sy grootste effek primêr het binne sosiale verhoudings. Daarom sien ‘n mens die invloed van Christus eers regtig raak as ‘n gemeente gestig word, nie wanneer die eerste bekeerling tot geloof kom nie.   ‘n Gemeente is immers die eerste teken van die invloed van Christus.

En wat my tref van gemeentes, soos Walls daaroor skrywe, is dat hulle stories deur die eeue telkens ‘n verhaal van progressie en regressie is, half soos my eie ervaring van ruimtes wat vir God in my lewe oop- of toegaan.  Walls se waarneming is, dat dit met inkarnasie te make het: in dié mate wat die Woord gestalte kry in ‘n gemeenskap, in dié mate brei die invloed van Christus uit of krimp dit in.  Die effektiwiteit en weerstandigheid van die Christelike gemeentes is direk verbind aan hulle vermoë tot, wat hy noem: "acts of cultural translation by which the Christians of any community make their faith substantial within that community" (13).

Om kulturele grense oor te steek was dus en sal steeds die lewensbloed van die historiese Christendom bly.  Telkens as die invloed van Christus ingekrimp het, bv. in die eerste gemeente van Jerusalem na die eerste vervolging, het daar lewe van die periferie gekom, gewoonlik waar ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. lees met die ontstaan van die gemeente in Antiochië, weens die getuienis van onbekende Joodse gelowiges van Ciprus en Griekeland. (Hand 11:19-20).

Die "Ephesian Moment"

Dit laat Walls opmerk: "The fundamental missionary experience is to live on terms set by others." (41)  Hy beskryf die ervaring met die term: "The Ephesian Moment" (hfst. 4, p72 vv.) en wys hoe in die gemeente van Efese daar net een Christelike gemeenskap was, waarin die diversiteit deel van die kerk se eenheid was.  Teologies gesproke beteken dit aan die een kant die kerk moet divers wees, want die mensdom is divers.  Aan die ander kant beteken dit, die kerk moet een wees, want Christus is een.  Die kerk is daarom die fees van die vereniging van onversoenbare entiteite, die deurbreking van die middelmuur van skeiding wat deur Christus se dood te weeg gebring is (Ef 2).

‘n Mens sien dit ook in die totstandkoming van die gemeente in Filippi (Hand 16), waar die eerste drie gemeentelede diversiteit op verskillende vlakke demonstreer, ekonomies: arm (slawe-meisie), middelklas (tronkbewaarder) en ryk (Lidia), gender en generasies: beide vroue as ‘n man en sy gesin, etnies: ten minste ‘n Romeins en ‘n Jood en nog ‘n onbekende etnisiteit (slawemeisie) en polities: tronkbewaarder, Jodin en slawe-meisie.

Om die volle maat van Christus te verstaan kom dus deur die samevoeging van al die gefragmenteerde verstaansinhoude van diverse kultuur-spesifieke segmente van die mensdom waar Hy bekend word.  Dit voorkom die twee groot gevare wat gemeentes telkens bedreig:

1.       Die beskerming van ons eie weergawe van die Christelike geloof, deur dit soms selfs tot die normatiewe of standaard verstaan van die geloof te verhef.

2.       Die post-moderne aanvaarding van alle uitdrukkings en weergawes van die Christelike geloof as ewe geldig en outentiek, wat ons weereens van mekaar kan vervreem en selfs meer gevaarlik as die eerste gevaar is.

Waar diversiteit omhels word, het dit twee belangrike uitvloeisels:

1.       Dit maak kreatiewe teologiese aktiwiteit nie net moontlik nie, maar noodsaaklik, wat bydra tot die weerstandigheid en breër impak van die evangelie.

2.       Dit maak dit moontlik en noodsaaklik om die grense na ekonomies armer dele oor te steek, waar die grootste uitbreiding van die evangelie vandag plaasvind.

Inhabitasie

Maar waar die pennie nou regtig vir my gedrop het, is in die saamdink van hierdie piëteit- en inkarnasie-model.  Want inkarnasie kan te performatief verstaan word: ons moet dinge doen wat die invloed van die evangelie sigbaar maak in die wêreld, en piëteit kan weer te vroom-introspektief verstaan word: dit is wat in my gees gebeur wat die invloed van Christus sigbaar maak in hierdie wêreld.

Ek begin dink dat beide persoonlike piëteit en gemeenskaps-inkarnasie meer tot hulle reg kom in 'n pneumatologiese inhabitasie-model.

Danie Louw, in sy nuwe boek Cura Vitae (klik op die vorige skakel vir 'n bespreking op hierdie webtuiste), stel 'n pastorale inhabitasie-model voor, waar meer op die "being"-funksies van mense as hulle "doing"-funksies gekonsentreer word, meer op die inwoning van die Gees in ons self en in ons gemeenskappe en gemeentes, as die werk wat ons vir Christus doen.  Ek sou byvoeg, meer 'n Handelinge spiritualiteit as 'n Evangelie spiritualiteit, as mense my net nie miskien verkeerd sal verstaan nie!

En ek dink dit help my verstaan, dat ek in my eie lewe meer ruimte moet skep vir die Gees om met my te werk, sodat Christus in my kan woon.  En dat in ons gemeentes ons as diverse gemeenskap van alle kulture uit alle sosiaal-ekonomiese sfere, meer ruimte moet maak dat die Gees in ons gesamentlik woon, om die eerste voorsmakie of proesel van die nuwe wêreld wat God skep, te wees.

En dit help my om die valse teenstelling tussen privaat en publiek, tussen Christus in my lewe, en Christus in die gemeente/gemeenskap se lewe te deurbreek.  Christus werk deur sy Gees nie anders in my gees as in die gemeente nie.  Hy werk miskien meer effektief in die gemeente, gegewe die diversiteit, maar nie anders nie.

En dit beteken, vir my, dat ek al hoe meer 'n oog kry vir wie ek is in Christus, eerder as dat ek konsentreer op wat ek vir Christus kan doen.

Hoor graag hoe ander leraars en gelowiges hieroor dink!

Chris

Add comment