|
29 Junie 2011
Posted in
Kruisgewys -
Junie 2011
Redaksioneel deur Chris van Wyk
Om reg na God te luister, vra vir 'n balans tussen 'n meer informatiewe lees van die Bybel en 'n formatiewe lees daarvan. Die Bybelse teksgedeelte is immers God se belangrikste instrument om ons lewe te vorm.
Met ons Bybelstudie kan ons nie 'n greep op die Bybel kry nie. Ons laat egter God toe om 'n greep op ons te kry – om ons lewe te vorm en ons lewenstyl te verander, sodat ons al hoe meer kan leef soos Hy wil. Dit is wat die geleerdes Spiritual Formation noem, die proses waardeur ons na die beeld van Christus verander word en 'n Christelike lewenstyl aanleer, ter wille van ander (Mulholland, Shaped by the Word, 25).
Een van die maniere waarop die kerk deur die eeue hierdie Christelike lewenstyl aangeleer en gekoester het, was deur praktiese geestelike gewoontes, of soos baie dit noem, geestelike dissiplines of geloofsgewoontes. Dit is eenvoudige, oordraagbare tegnieke wat in die beoefening en bemeestering daarvan jou lewe vorm en Christus gestalte in jou laat kry (Gal 4:19).
Met geestelike gewoontes leer 'n mens 'n kant van die Christelike lewe ken wat jy nie kan leer net deur boeke te lees of aan die voete van geleerdes te sit nie. Dit is kennis wat net deur ervaring onder begeleiding van die Heilige Gees oopgesluit word (1 Kor 2:13). Dit is in die beoefening van die geestelike gewoontes wat 'n mens dié kennis opdoen, op geen ander manier nie.
In hierdie uitgawe van Kruisgewys dink ons daarom na oor die beoefening van geestelike gewoontes en die lewenspraktyk wat daardeur in gelowiges gevestig word.
Leon Venter – Barnabas, Scharmer en geestelike leierskap in die 21ste eeu – skryf oor die tipe geestelike leierskap wat in die 21ste eeu nodig is. Hy gebruik die U-teorie van Otto Scharmer en koppel dit aan die geestelike begeleiding van Barnabas om as model vir geestelike leierskap te dien.
Marius Nel – Leef Anders – beskryf die geloofsvormingsproses soos die gemeente Doornpoort dit tans in samewerking met Communitas aanpak. Hulle werk met vier verhoudings wat in die vormingsproses belangrik is: God, self, ander en omgewing. Daarvoor het hulle vyf baie innoverende prosesse ontwerp: 1) Skop jou skoene uit (God); 2) Leef in die voortuin (omgewing); 3) Ruik die geur van koffie (self); 4) Dek die tafel (binnekring) en 5) Gaan sit by iemand anders (ander).
Nico Simpson – Kan "gewone" mense self God hoor? – beskryf die geloofsvormingsproses in die praktyk van die ervarings van 'n groep wat hy in Kruisgemeente geestelik begelei. Hy fokus in sy artikel op die real-time ervarings van real persons – Borselkop en Logistiek – is baie eerlik oor sy worsteling met homself tydens die proses, en kom tot die ontdekking dat "hy in vrede kan sterf"! God kom juis aan die werk waar hy Hom toelaat, en mense nie met te veel downloading belas nie.
Frederick Marais – Wat leer selfhelp-ghoeroes by Johannes Calvyn oor 'n nuwe leefstyl? – dink na oor 'n teologie wat ons kan help om van ons belydenis 'n leefstyl te maak. Hy brei uit oor die bose siklus van probeer – soos 'n mens dit by die selfhelp-ghoeroes leer – en kies eerder vir 'n strategie van in-oefening binne verhoudings.
Chris van Wyk – In die spore van Barnabas – skryf oor die Pinksterreeks van 2011 wat fokus op die Gees se gebruik van geestelike gewoontes om ons te vorm. Die verhaal van Barnabas word as meesterverhaal gebruik om te wys hoe 'n Christelike lewenstyl gevorm word deur die geestelike gewoontes wat jy beoefen – vrygewigheid, gasvryheid, bemoediging en begeleiding.
So lyk Pinkstertradisie in SA se gereformeerde kerke, die laaste artikel, vergelyk die tradisie van Pinksterdienste in die NG Kerkfamilie met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke (wat albei Kruisgewys ontvang) wat nie dié tradisie handhaaf nie, en vra die vraag hoe die werk van die Heilige Gees binne dié kerke verkondig word.




