|
01 Maart 2011
Posted in
Kruisgewys -
Februarie 2011
Redaksioneel onder leiding van Freddie Schoeman
Oor die afgelope dekade het die viering van die kerklike jaar ’n al hoe groter klem in die kerk gekry. Gemeentes het ontdek dat om God se groot dade van liefde en genade in die geskiedenis behoorlik te vier, noodsaaklik is vir geestelike groei.
Paasfees is die groot hoogtepunt van die kerklike jaar. Lydenstyd, daarenteen, is ’n tyd van voorbereiding op die viering van Paasfees. Baie gemeentes vier Lydenstyd met groot toewyding en geloofserns – heeltemal tereg ook. Dit wil egter voorkom asof daar soms so baie moeite gedoen word met Lydenstyd dat teen die tyd dat Paasfees aanbreek, daar maar min entoesiasme en energie oor is.
Paastyd bestaan uit 50 dae (Grieks pentekoste) en loop uit op Pinksterfees. Dit is raadsaam om dit nie ter wille van Lydenstyd af te skeep nie.
Oordrewe klem op Lydenstyd het ’n verdere nadeel: Dit neem soms die oë af van die res van Jesus se lewe, vanaf sy eintlike boodskap. Talle gelowiges kom onder die indruk van Jesus se sterwe “ter wille van ons”. Dan vergeet hulle dat Jesus ons roep om ter wille van Hom en sy koninkryk te leef. Die oordrewe aandag aan die boodskap van “ek en my redding”, verduister dikwels die belangriker boodskap van “God en God se doel met die wêreld”.
Die uitdaging is om met die viering van Lydenstyd en Paasfees, dié belangriker deel van die boodskap oor te dra.
Dit kan reeds op Palmsondag gedoen word. Dit staan tradisioneel bekend as die dag van Jesus se “intog” in Jerusalem. Soos wat Markus die verhaal vertel, was dit nie maar sommer net die dag waarop Jesus sy lang reis vanuit die Noorde van die land na Jerusalem toe afgesluit het nie. Dit was ook ’n doelbewuste profetiese daad met ’n baie spesifieke profetiese boodskap met duidelike politieke ondertone. Die manier waarop Jesus die “intog” beplan en uitgevoer het, was bedoel om bepaalde messiaanse tekste wat in die harte van die bevolking geleef het, in hulle gedagtes op te roep.
Markus vertel dat van die skare voor Jesus uitgeloop het. Ander het Hom gevolg, terwyl hulle uitroep (Mark 11:9b-10):
“Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom!
10Geseënd is ons voorvader Dawid
se koninkryk
wat aan die kom is!
Prys Hom in die hoogste hemel!”
Die feit dat Jesus op ’n donkie ingery kom, is ’n doelbewuste uitbeelding van Sagaria 9:9-10 – en die skare weet dit. Dit is waarom hulle uitroep dat Dawid se koninkryk aan die kom is. Markus laat dit aan die leser oor om die verband tussen die gebeure wat hy beskryf en die teks in Sagaria te lê. Matteus verwys egter eksplisiet daarna (Matt 21:5).
Die woorde uit Sagaria wat die skare laat uitroep: “Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is!”, is die volgende (Sag 9:9-10):
9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!
Jou koning sal na jou toe kom.
Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar,
hy is nederig en hy ry op ’n donkie,
op die hingsvul van ’n donkie.
10Ek sal die strydwaens in Efraim
vernietig,
die perde uit Jerusalem uitroei.
Die pyl en boog waarmee
oorlog gemaak word, sal gebreek word.
Die koning sal vrede vir die nasies
afkondig
en hy sal regeer van see tot see,
van die Eufraat af tot in die uithoeke
van die aarde.
Om die impak van dit wat Jesus hier doen ten volle te verstaan, moet ons iets weet wat nie in die evangelies vertel word nie, maar beslis in die gedagtes van die skare en van die eerste lesers sou wees.
Ons moet besef dat, terwyl Jesus van die oostekant (die Olyfberg se kant) af Jerusalem binnegekom het, het die Romeinse garnisoen wat tydens Paasfees die oproerige Jode in toom moes hou, van die ander kant af, van Seserea af, binnegemarsjeer gekom. Hulle was in die burg Antonia, direk langs die tempel, gestasioneer.
Die Romeinse militêre teenwoordigheid was simbolies van die politieke, militêre en ekonomiese uitbuiting van die armes en magteloses van die wêreld. Hier teenoor demonstreer en verkondig Jesus deur sy profetiese daad die boodskap van Sagaria: “Die pyl en boog waarmee die nasies oorlog maak, sal gebreek word.” Die kontras tussen God se ryk van geregtigheid en vrede en die Romeinse keiser se ryk van onreg en geweld, kon beswaarlik duideliker voorgestel word!
Jesus demonstreer op ’n treffende manier sy sentrale boodskap: God se koninkryk het naby gekom (Mark 1:15). God se toekoms was besig om in die hede in te breek. God was besig om sy koninkryk van geregtigheid, liefde en vrede te vestig – teenoor die aardse ryke van uitbuiting, onderdrukking, liefdeloosheid en geweld. Van laasgenoemde was die Romeinse Ryk, saam met hulle lakeie die tempelhiërargie, natuurlik die voor die handliggende voorbeeld.
Wanneer ons slegs op die boodskap van Jesus se sterwe “ter wille van ons” konsentreer, gaan die groter boodskap van God wat besig is om sy koninkryk te vestig, by ons verby. Daarom, wanneer daar vir die viering van die Groot Lydensweek beplan word, moet dié groter en belangriker boodskap nie afgeskeep word nie. Liturge, predikers en eredienswerkgroepe moet dit konsekwent in gedagte hou.
Jesus het nie gekom om mense se “siele” te red nie. Jesus het gekom om God se heerskappy op aarde te vestig. Sy kruisdood en opstanding verteenwoordig die beslissende oorwinning van die liefdesmag van God oor die geweldsmag van die wêreld.
Ons word geroep om onsself te verloën en ons kruis op te neem en ons allereers te beywer vir God se koninkryk (sien Mark 8:34 en Matt 6:33). Ons word geroep om te bid dat God se koninkryk op die aarde sal kom, net soos in die hemel (Matt 6:10).





