|
12 Augustus 2010
Posted in
Kruisgewys -
Augustus 2010
Daar is ’n grondige verskuiwing in die kerk in Suider-Afrika aan die gang.
’n Mens kan dit beskryf as ’n beweging van dominasie na diens. Dit gaan om gelowiges en gemeentes wat uit vorige posisies van bevoorregting en beheer hulle gawes en vermoëns in diensbaarheid begin aanwend, nie net in en ten bate van hulle geledere nie, maar oral waar nood en behoefte bestaan.
In hierdie Kruisgewys is daar ’n seleksie van verhale wat van hierdie diensbaarheid getuig.
Ons sien dit ...
- op Elliot waar boere by die slagoffers van ’n taxi-ongeluk betrokke raak en dié betrokkenheid tot ’n hele gemeenskapsverandering lei;
- in Oos-Londen en Port Elizabeth haar dienslewering die kerk laat groei;
- in Durban se middestad waar ’n gemeente sy deure oopgooi vir die gemeenskap en die bediening ekumenies honderdvoudig ontplof;
- in die inspirerende alternatiewe storie uit Zimbabwe waar ons ons aan John se praktiese visie verwonder.
Daar is talle van dié verhale reg oor ons land versprei!
Dit is natuurlik nie heeltemal nuut nie. Die kerk in Suider-Afrika het nog altyd ’n barmhartige hart gehad. Dit het nog altyd op baie maniere mense met nood gehelp. En hoewel die persepsie onder baie toeskouers vir lank was dat omgee in baie kerke net beperk was tot die eie kring, is daar talle verhale wat die teendeel bewys.
Wat nóú gebeur, is tog iets méér. Die kerk groei op so baie plekke oor sy grense dat dit regtig inklusief begin word.
Dit is natuurlik nie sonder probleme nie. Sommige gemeentes wat aan die voorpunt van hierdie beweging oor grense heen staan, verloor van hulle meer tradisionele lidmate wat nie kans sien vir die uitdaging om inklusief te dink en leef nie.
Daar moet nuut en kreatief gedink word oor die benutting van geboue en voertaal. Durban-middestad is vir ons ’n voorbeeld hoe sulke kreatiewe denke die inherente probleme die hoof kan bied. Interessant is dat hulle tradisionele lidmaattal nou begin groei!
Een van die praktiese redes vir hierdie beweging van dominasie na diens, is waarskynlik (minstens in die NG Kerk) te danke aan die invloed van die afgelope vyf jaar se Seisoen van Luister.
Dié invloed is nie net te danke aan die wydgebruikte 2010-Pinksterreeks, Stap met Jesus oor Grense, wat die luistersiklus se “luister na ander” (stasie vyf van die siklus) op die tafel gesit het nie.
Ek dink dat die beweging na diensbaarheid veral te danke is aan die Seisoen van Luister se waardes van deernis, openheid, saam met leerbaarheid en vertroue wat die lewenstyl van gelowiges begin kenmerk het.
Veral die waarde van deernis kom nou in dade van diens na vore. Dit gebeur nie net in eie kring nie. Soos ’n blom in Namakwaland, gaan dit oor grense heen oop na mense wat voorheen nie deel van die tipiese bedieningsterrein van die betrokke gemeentes was nie.
Ek kan nie anders as om hierin iets te sien van die lewende water waarmee Christus die wêreld se dors wil les nie. Anders as in die verlede, staan praktiese diensbaarheid voorop, en nie net die prediking nie.
’n Teologiese rede is dat daar ’n ál hoe groter herwaardering vir ’n teologie van kenosis kom. Frederick Marais skryf dat ons begin agterkom dat die koninkryk van God deur kwesbare diens kom. Met Filippense 2:5-6 as basisteks voer hy aan dat aan die wortel van ons dienslewering ’n kenosis lê, ’n ontlediging soortgelyk aan dié van Christus. Só kry ons dit reg om nie onsself en ons eie belange voorop te stel nie, maar juis die belange van ander.
Miskien is die kerk dus besig om in ’n Seisoen van Diensbaarheid in te beweeg. Dit word nie juis aan die groot klok gehang nie. Die linkerhand weet nie van die regterhand nie. Dit word nie met amptelike taakspanne, kommissies of deputate in ons kerke gefasiliteer nie. Maar die spore van diensbaarheid loop nou op so baie plekke dat ’n mens van ’n Seisoen van Diensbaarheid kan begin praat.
Die droom van duisende dade van diens begin ekumenies ’n werklikheid word.




