|
18 Maart 2010
Posted in
Kruisgewys -
Maart 2010
Die afgelope twee Kruisgewys-uitgawes het op gemeentes gekonsentreer.
Dit het nagedink oor klein gemeentes en of hulle 'n seën of mislukking is. Dit het ook nagedink oor gemeentes waarvan ons hoor dat hulle 'n wedergeboorte of omkeer ervaar.
Uit lesers-terugvoer het ons gehoor dat dié stories goed ontvang is, en dat dit verdere nadenke stimuleer het.
Induksie
Die praktyk van mentorskap in die kerk - waar ouer leraars jonger leraars as deel van 'n induksieproses begelei - is besig om 'n impak te maak. Leraars getuig dat die proses hulle help om met baie groter oorleg die kultuurskok van die beweging na 'n nuwe gemeente te hanteer. Van gemeentes hoor ons dat dit hulle help om die komplekse veranderings wat met 'n nuwe leraar se koms in 'n plaaslike gemeente gebeur, te verstaan en te bestuur.
Dit is opmerklik dat jong leraars 'n positiewe ervaring van die induksieproses het.
Vir hierdie uitgawe het ons daarom besluit om 'n proses van "reverse mentoring" aan die gang te sit. Dit gee jong leraars 'n geleentheid om hulle stem te laat hoor. Ons keer die rolle om. In plaas van luister na ouer en meer ervare leraars in 'n induksieproses, luister ons nou na jonger en minder ervare leraars.
Getrou aan só 'n proses het die jonger leraars 'n oop agenda gekry. Hulle moes uit die hart skryf oor die tema: "Jong leraars praat met die kerk". Basies kon hulle self die agenda bepaal.
Dit was opmerklik met hoeveel entoesiasme die jong leraars die opdragte aanvaar het. Die artikels is dus ook almal betyds terug ontvang.
Dit het verder opgeval dat 'n hele paar van hulle by die Diensjaar vir Christus betrokke was. Sulke gefokusde aandag aan jongmense het duidelik 'n beduidende impak op die kerk en die koninkryk.
Kerk as instituut en beweging
"Ek dra nog altyd met my die vae ondertoon van 'n buitestaander saam." Hierdie jong leraar, al in sy tweede gemeente, het baie waardering en aanvaarding ervaar in die gemeentes waar hy al gedien het. Sy hoop vir die toekoms spruit voort uit sy opgewondenheid oor gemeentes. Hy verwoord dit ook teologies en prakties. Sy ongemak oor die toekoms lê egter in die gestalte van die kerk as instituut of instelling. Daaroor is hy effens sinies. Tog sluit hy sy artikel af met veelseggende woorde wat herinner aan die Roepingsverklaring 2002: "Maar ek is nog hier. Ons is nog hier. Dit is genoeg."
'n Ander jong leraar, in 'n soort dekonstruksie van die tema, skryf dat hy wonder waarom jong leraars uitgesonder word vir bydraes. So 'n bietjie aspris sluit hy af met die stelling (met 'n beroep op die tradisie!) dat dit moontlik nou húlle beurt is om kerk te wees. Hy sien homself dus nie as 'n buitestaander nie, maar as deel van die sisteem.
Bogenoemde sê albei leraars het 'n diep verbintenis aan die kerk, ten spyte van die ongemak en spanning tussen die kerk as instituut en beweging.
Dat dié keuse nie sonder pyn is nie, is egter ook duidelik. 'n Leraar skryf oor die moegheid wat sy by leraars binne die sisteem raaksien: "Moeg van baklei teen strukture wat mense uitgedink het en ongevraagd in stand hou. Moeg omdat hulle so baie van hulleself verwag en moeg omdat hulle nooit voel hulle het genoeg gedoen nie."
Dit resoneer met die onlangse debat in Die Burger. 'n Lidmaat van Vlaklaagte-Suid skryf oor sy allesomvattende verwagting van leraars. 'n Leraar, Charl Stander, antwoord "Ek sal alles in die gemeente doen, maar asseblief, kom vat my hand ...".
Ek dink die kerk moet goed luister na hierdie perspektiewe. Charl haal John Goldingay aan: "'n Profeet van God voel dikwels soos iemand wat van voor geskiet word deur die vyand en van agter deur sy eie regiment."
"Nie die ooms daarbo" gaan verandering bewerk nie, maar "ek en mense wat gesindheidsveranderinge mobiliseer sodat broers en susters weer sáám kan brood breek," sê 'n ander jong leraar.
Die meeste van die jong leraars skryf uitgebreid oor hulle eie roepingsverstaan. Dit wissel van die meer tradisionele opvatting van leraars se roeping as herders tot die verstaan van roeping as reisgenoot: "om die paadjie van geloof saam met hulle te stap."
Dit is opmerklik hoeveel die gemeente-ervaring skaaf aan jong leraars se self- en roepingsverstaan. Een jong leraar skryf dat die "pastorie"-ervaring vir hom soos 'n grootword-proses was. Hy het meer volwasse geword.
Hoop lê in ons reis sáám
My oorkoepelende ervaring in die luister na hierdie jong leraars is dat ek - in die woorde van Hosea - stil-tevrede is oor die jong leraars van die kerke waaraan ons behoort.
Een van hulle herinner ons vanuit Niebuhr se teologie aan die verskil tussen optimisme en hoop. "Ek wil graag op reis bly saam met mense wat nie bymekaar gehou word deur strukture nie, maar deur hulle gedeelde droom om God se koninkryk al hoe meer sigbaar te maak daar waar hul leef en werk. Ek sal bly droom oor 'n kerk, oor mense wat oop, eg en eerlik leef en doelbewus ruimte maak vir alle mense."
Sela!
| Volgende > |
|---|




