AddThis Social Bookmark Button

'n Mens kan jou nouliks 'n groter krisis voorstel as dié waarin Israel in die tyd van Eli verkeer het (1 Sam 1-7).

Omdat Eli nie sy seuns vasgevat het met hulle vergrype aan vet en vrouens nie, word sy hele nageslag verwerp. Dit veroorsaak onmiddellik 'n priesterlike vakuum. Op die koop toe buit die Filistyne die ark, die heiligste simbool van God in Israel. Dit het 'n geestelike droogte tot gevolg. Eli se reaktiewe leierskap boemerang dus lelik op hom en die volk.

Terselfdertyd bid 'n vernederde Hanna egter aangry­pend om 'n seun: "Sien my raak, dink aan my en moet my nie vergeet nie" (1:11). Sy kry 'n seun van die Here wat langs die ark grootword en die stem van die Here leer ken. Op die hoogtepunt van die krisis, wanneer chaos dreig om alles in te sluk en die ark uit vrees in Kirjat-Jearim gebêre is, is dit dié seun, Samuel, wat die Here gebruik om die priesterlike vakuum te vul en die geestelike droogte van Israel te breek. Samuel laat deur gebed en kategese die volk weer opstaan (7:6). Die Here laat 'n groot donderweer losbars oor die Filistyne en verlos die volk.

Dieselfde krisisbootjie

Ek dink baie gemeentes ervaar hulleself op 'n manier in dieselfde krisisbootjie as Israel. Leierskap is oneffektief en reaktief. Toewyding aan die Here is gebrekkig. Mense reageer nie meer op strategieë wat voorheen gewerk het nie. Strukture tuimel in mekaar omdat daar nie mense is wat gewillig is om dit in stand te hou nie. Die oorheersende gevoel is dat chaos begin oorneem. Dit dreig om die bietjie energie wat nog by sommige oor is om iets te doen, op te slurp. En die vooruitsigte vir standhoudende verandering lyk alles behalwe belowend ...

Maar soos met die verhaal van Samuel, is daar 'n ander werklikheid ook. Gemeentes regdeur ons land wat begin omdraai, wat 'n nuwe toewyding beleef, wat weer opstaan en die vreugde van gemeenskap met God en mekaar in hulle diens aan hierdie wêreld herontdek. Hulle lyk nie soos gemeentes van die verlede nie. Hulle lyk nie eers na mekaar nie. Hulle volg ook nie enigsins 'n resep wat almal wat in die moeilikheid is kan navolg nie. Maar dit is gemeentes wat 'n ommekeer beleef, wat 'n grens oorgesteek het en met nuwe moed die pad stap wat hulle sáám in hulle unieke situasies ontdek het.

Hierdie Kruisgewys gaan dus oor die selfbekering van die kerk, oor die geleenthede wat tans in die chaos vir gemeentes oopgaan. Dit gaan oor gemeentes wat grense begin oorsteek, nuwe bedienings begin ontwikkel en vir ons wys wat kan gebeur as hulle die stem van die Here hoor en gehoorsaam.

Kruisgewys fokus dié keer op die hergeboorte van gemeentes. Ons kyk met 'n waarderende oog na die omdraai­strategieë wat hulle gevolg het. Baie daarvan het te make met die herontdekking van die waarde van kwesbaarheid eerder as mag, met 'n openheid om nuut te luister, 'n nuwe besef van die Missio Dei. Dit het veral te make met wag op God se tyd en sy voorsiening.

Ons het dié nuus baie nodig in 'n tyd waar baie geskryf word oor die probleme wat die kerk oor 'n breë front ervaar, soos ons onder andere gesien het in die navorsing van Wim Dreyer in die vorige Kruisgewys (kyk ook by www.gemeentes.co.za).

Ons luister na die uiteenlopende stories van meer as tien gemeentes, sommige weliswaar nog in proses, om van hulle te leer. Daardeur vertrou ons dat hierdie omkeerverhale ruimtes sal laat oopgaan ook in ander gemeentes waar God vertrou sal word om geleenthede in die chaos te gee.

Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (gamkavallei.doc)gamkavallei.docGamkavallei bou vir die toekoms26 Kb
Download this file (Parowvallei.doc)Parowvallei.docParrowvallei-Oos - van hooploos tot hoopvol30 Kb
Download this file (droom.doc)droom.docDroom laat twee gemeentes saamsmelt27 Kb
Download this file (vrystaters.doc)vrystaters.docVrystaters ontdek mekaar oor grense heen32 Kb
Download this file (torings van hoop.doc)torings van hoop.docTwee torings word horings van hoop36 Kb
Download this file (wedergeboorte.doc)wedergeboorte.docVier noordelike gemeentes beleef wedergeboorte33 Kb

Add comment


Security code
Refresh